GEORGE NUUS - Om as plaaslike onder-offisier en fisiek gestemde fietsryfanatikus op nasionale vlak vereer te word kom nie almal toe nie.
In 'n onderhoud met adjudant-offisier Attie Botha vertel hy aan die George Herald dat sy nasionale toekenning as die polisie se sportman van die jaar (2017) vir persone met gestremdhede nie sonder toewyding en opoffering kom nie.
Botha, wat 'n lid van die Oudtshoorn-fietsryklub is, het dié toekenning by die onlangse SAPS Excellence Awards tydens ‘n spoggeleentheid in Durban ontvang.
"Dis 'n groot eer vir my en ek was baie geskok toe hulle my naam uitroep," sê hy.
Botha, wat al 32 jaar in die polisiemag is, het in 1999 begin fietsry vir ontspanning. In 2011 is hy as 'n gestremde geregistreer en twee jaar later neem hy aan sy eerste SA parafietsrybyeenkoms op Oudtshoorn deel.
Hier verower hy goud in die padwedren en silwer in die tydtoetse.
Van daar het hy jaarliks by dié byeenkoms 'n podiumplek geniet.
In 2016 sien hy kans vir die wêreld se bestes en neem hy deel aan die Wêreld Parafietsrykampioenskappe in Pietermaritzburg. Hier behaal hy 'n algehele sesde plek.
Tydens kompetisies word gestremde ryers nie volgens ouderdom gegroepeer nie, maar volgens hul gestremdhede in verskeie klasse geplaas.
Botha (C4-klas) se tydtoets het oor 25 km gestrek en die padwedren oor 72 km.
In verlede jaar se SA kampioenskappe het Botha goud in die padwedren en die tydtoets gewen.
"Dit was 'n groot jaar vir my," vertel hy met 'n breë glimlag.
Hy is ook die afgelope vyf jaar as die Wes-Kaapse sportman van die jaar vir persone met gestremdhede aangewys.
Botha tydens die Wêreld-parafietsrykampioenskappe in 2016 in Pietermaritzburg waar hy 'n 6de plek behaal het.
Al Botha se prestasies het bygedra dat hy op 26 Januarie in Durban as die polisie se sportman van die jaar vir persone met gebreke aangekondig is.
"Ek was baie verras toe hulle my in Durban as die wenner aankondig. Ek het dit glad nie verwag nie.
"Ek bedank graag my borge en ondersteuners sonder wie ek nie hierdie prestasie kon bereik het nie."
Botha het vandeesweek weer aan die SA parafietsrykampioenskappe deelgeneem.
Hy het 'n tweede plek in die tydtoets, met 'n tyd van 25:38 oor 'n afstand van 14.6km, behaal.
'n Gemiddelde tyd van 34.18 km/h.
Teen druktyd was die uitslae van die padwedren nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'