GEORGE NUUS - 'n Massiewe aansoek vir 'n begrotings-fasiliteit van minstens R1 miljard (R1 000 miljoen) om die dorp se uitdagings rondom infrastruktuur na behore aan te spreek, is 'n projek waaraan George-munisipaliteit vir die volgende paar maande intensief gaan werk.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het na die afloop van 'n raadsvergadering einde verlede week verduidelik dat die munisipaliteit op advies van die nasionale tesourie aan so 'n aansoek werk.
"Dit is gewoonlik groot metro's, soos Kaapstad, wat so 'n fasiliteit het. Die debat wat ons tans op nasionale vlak voer is dat ons te min fondse van die nasionale regering ontvang.
"Nasionale tesourie kan nie nou help nie, maar hulle besef dat ons in die toekoms groter hulp van die regering gaan moet ontvang. Hulle advies was dat ons nou 'n aansoek moet bring vir 'n begrotingsfasiliteit wat oor 'n periode van drie tot vier jaar benut kan word. Met so 'n fasiliteit sal ons in groter ligas - die metro's - inbeweeg."
Volgens Van Wyk is daar reeds baie bestee aan die dorp se riool- en waterwerke: "Ons het ver gevorder met die rioolwerke. Die betonwerk en damme is voltooi, en ons is tans besig met die meganiese en elektriese komponent. Die waterwerke moet ons nog uitbrei met 'n verdere 50%.
"Die volume wat tans hanteer word is sowat 40 megaliter per dag en dit moet met 'n verdere 20 megaliter vergroot word. Dit gaan ons baie geld kos."
Aanpassingsbegroting
Die aanpassingsbegroting toon 'n vermindering van R3 miljoen. Die fondse was deel van 'n MIG-toekenning (Municipal Infrastructure Grant) wat gebruik is vir die New Dawn Park-stormwaterprojek.
"Die vermindering sal nie 'n uitwerking op die projek hê nie, aangesien daar 'n oorskatting op die projekkoste was," het Dirk Wessels, portefeuljeraadslid vir finansies en strategiese dienste, gesê. "Daar is ook 'n addisionele bedrag van R3,32 miljoen deur die provinsiale tesourie vir ons gemeenskapsbiblioteke gegee."
"As bogenoemde saam met die kwartaal-verslag gelees word, is dit duidelik dat die munisipaliteit regtig goed vaar met die besteding van die begroting," het Wessels gesê.
"Administrasie moet toegejuig word vir die besparing van net minder as R22 miljoen. Dit toon dat ons simpatie en empatie het vir die huidige ekonomiese situasie. Die finansiële toestand van die munisipaliteit bly stabiel, en met die konsepbegroting wat in die vorige raadsvergadering ter tafel gelê is, blyk dit dat ons as munisipaliteit daarop ingestel is om die belangrikste sekondêre stad in die land te word."
Grondaansoeke
Die grondaansoeke van beide Suid-Kaap Kollege en Rundle College was onder bespreking in die raad. Rundle College stel belang in grond in die omgewing van Kingswood-gholflandgoed, waar hulle tans oor eiendom beskik. Die grond word weer op tender geplaas met 'n markverwante insetprys. "Enigeen kan vir die grond tender," het Van Wyk gesê.
Suid-Kaap Kollege het kans tot Maart 2023 om met die geld na vore te kom vir 'n stuk grond aan die onderkant van Yorkstraat (langs die Mount View-vakansieoord) waarin hulle belangstel. "Intussen sal die grond voorberei word vir ontwikkeling," het Van Wyk gesê.
Verskeie grondgebruiksaansoeke moet ook voltooi word, waaronder 'n omgewingsimpakstudie, nodige ingenieursverslae oor die grond, paaie en grootmaatdienste.
"Sodra hierdie prosesse begin word meer waarde aan die grond geheg. In twee jaar se tyd, as ons vind dat die regering se spaarbussie steeds leeg is, is dit moontlik dat iemand uit die privaat sektor sal belangstel. Langtermyn is dit 'n belegging vir George," het Van Wyk gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'