GEORGE NUUS - Die dood van Christo Fourie, visepresident van George-landbouskou, oor die naweek is die tweede tragedie wat die skouraad die maand tref.
Nico van Rensburg, portefeul-jeraadslid vir melkbeeste, is twee weke gelede soos Fourie weens Covid-19 oorlede.
Volgens die skoupresident, Corné Botha, was Fourie een van die ankerraadslede en 'n ware staatmaker.
"Dis erg dat ons twee van ons kernraadslede in die bestek van 'n week moet begrawe. Christo was my regterhand en het altyd ingestaan en gehelp waar hy kon. Saam het ons nogal 'n gedugte span gemaak. Hy was saam met my 'n erelid van die Agri Expo. Hy laat groot spore om vol te staan in die Agri Expo-milieu."
'n Gebroke Aroura Fourie, sy vrou, het gesê hulle as gesin gaan hom verskriklik mis.
"Daar is 'n groot leemte in ons harte. Ons is dankbaar vir alles wat hy vir ons was en wat hy ons geleer het. Ons het nooit geweet hoe bekend hy was tot nou toe nie. Ons is oorweldig deur mense se reaksie. Van my en die kinders se kant wil ons baie dankie sê vir al die oproepe en boodskappe en als wat almal gedoen het om die dag vir ons makliker te maak."
Fourie was een van die eerste agente toe Meridian Realty ses jaar gelede in George oopgemaak het. Hy en Aroura het in Mei vanjaar met hul eie agentskap begin onder die naam Home Match SA.
Volgens Botha was Fourie 'n "mense-mens" en altyd lewenslustig. "Hy het altyd 'n grappie gehad en daar was altyd 'n glimlag op sy gesig. Hy was passievol oor die George-landbouskou. Sy bekendste woorde was, 'Oh lovely' as hy iets regkry of as iemand iets goeds gedoen het waarmee hy gelukkig was. Ek sal hom ook onthou vir sy groot liefde vir Aroura na wie hy altyd verwys het as sy bruid. Christo, ons gaan jou baie mis. Rus in vrede, my groot, groot vriend. Die skou gaan swaarkry sonder jou."
Fourie was die streekkoördineerder van die Agriwerkerskompetisie en hy was saam met Botha besig met die evaluasieproses van die deelnemers toe hy siek geword het.
"Dit was vir Christo 'n passie wat hy elke jaar met groot liefde aangepak het. Ek gaan nou aan met die res van die paneel om hierdie nalatenskap van hom te laat voortleef. Ons werk met als in ons vermoë om dit teen die einde van Augustus af te handel."
Fourie het ook twee gewilde Facebook-blaaie, Klein-Brak op sy Beste en Living on the Garden Route op die been gebring wat beide oor die 5 000 lede het.
Hy laat sy ma Issie, sy vrou Aroura en ses kinders, Zacharias Fourie, Alisia Nortje, Christa Zaaiman, Franco Kotze, Elsabe Fourie en Tiaan Fourie, asook 10 kleinkinders agter. Sy 11de kleinkind is op pad.
'n Viering van Fourie se lewe vind Donderdag 19 Augustus om 15:00 by die skouterrein plaas. Weens Covid-19-inperkings is die kwota besoekers reeds vol, maar 'n aanlynskakel sal nader aan die tyd bekendgemaak word vir diegene wat wil inskakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'