Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Inwoners en gemeenskappe het Saterdag hul stemme dik gemaak oor sosiaal-maatskaplike uitdagings. Eers het inwoners van Pacaltsdorp in Jakarandastraat bymekaargekom waar gewys is op die gevare van dwelms.
Later het inwoners van Maraiskamp en omliggende gebiede hul sterk uitgespreek teen gesinsgeweld.
Die geleentheid in Pacaltsdorp is onder die vaandel van Up Lifting Hands, 'n Christelike gemeenskapsorganisasie gehou. Jakarandastraat is afgesper en lede van die gemeenskap, die polisie, Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca) en die George-munisipaliteit het dit bygewoon.
Mense wat in die verlede by dwelms betrokke was, het vertel van hul nagmerrie ondervindings.
Danzil Gericke, stigter van Up Lifting Hands, het vertel dat hy in die verlede self dwelms verkoop en gebruik het. "Ek weet waarvan ek praat."
Hy het mense wat by dwelms betrokke is gevra om hulle los te maak van die verkeerde vriende.
Kol. Hans Blaauw, bevelvoerder van die Pacaltsdorp-polisiestasie, het gesê misdaad vernietig gesinne. Mense breek by voertuie in om geld vir dwelms te kry. Dwelms is die kern van misdaad in die gebied. Daar is geen voordeel om dwelms te gebruik nie.
Kyk 'n video hieronder:
Denswill Michaels het vertel dat hy in en uit die tronk was van die ouderdomme van 16 tot 32 jaar.
Sy dwelmgebruik het by dagga begin. Later het hy witpyp gebruik. In 'n stadium het hy geld uit sy ma se beursie gevat om dwelms te kon bekostig. In die tronk het hy ook dwelms gebruik en by bendes betrokke geraak. Sy lewenspad het egter later verander en hy bring 'n boodskap van hoop. "As mense jou afskryf, skryf die Here jou op."
Volgens Nita Hector, een van die organiseerders word nog sulke geleenthede beplan.
Kyk 'n video hieronder:
Die geleentheid in Maraiskamp is onder die vaandel van die Sewendedag Adventiste gehou.
Meer as 100 mense het aan 'n optog van sowat 5 km deelgeneem wat in Stompneusstraat begin het en in Herculesstraat geëindig het.
Optoggangers maak Saterdag gereed vir hul staptog in Maraiskamp.
Foto's: Eugene Gunning
Die boodskap was duidelik: Genoeg is genoeg en geweld teen vroue, kinders en mans, moet einde kry. Die optoggangers het plakkate gedra waarop onder meer gestaan het, 'Kinders het die reg tot 'n huis', 'Hou op slaan aan vroue en kinders' en 'As kind verdien ek om liefde te kry'.
Bernita Witbooi, een van die organiseerders, het gesê dit was die eerste keer dat dit gehou is en daar word beoog om dit 'n jaarlikse geleentheid te maak.
Voorvalle van geweld kom steeds voor. Dit is nie net fisiese geweld nie. Daar is ook verbale en emosionele geweld. Dit gebeur byvoorbeeld dat 'n pa kos van sy kinders weerhou. Geweld is geweld.
Brenda Koopman, nog 'n organiseerder, het gesê die kerk poog om mense op 'n geestelike wyse aan te spoor. "Die Here is die antwoord."
Die boodskap was dat as jy Jesus aangeneem het, jy 'n vredeliewende persoon teenoor jou familie en jou naaste sal wees en sal jy nie met die gereg bots nie.
John Ranna, wat aanwesiges aangespoor het om saam te stap, het gesê mense is moeg vir die geweld teen vroue en kinders. "Ons is moeg dat vroue in 'n stryd in hul eie huis moet leef."
Alles wat in 'n gemeenskap gebeur, het 'n oorsaak. Die grootste oorsaak van probleme in vandag se samelewing is drankmisbruik.
Nita Hector,(links) een van die organiseerders van die geleentheid in Jakaran-dastraat, Pacaltsdorp, sers. Clive Stoffels, van die polisie in Pacaltsdorp, kol.Hans Blauw, bevelvoerder van die polisiestasie in Pacaltsdorp en Danzil Gericke, stigter van Up Lifting Hands.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'