GEORGE NUUS - Die vermoorde Ernst Hartnick (54) van Pacaltsdorp se nefie is Dinsdag in die George-hof borgtog geweier en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 13 Desember.
Brandon Stalmeester (23) word van
die bloedige moord op Hartnick op
29 Oktober verdink en is 'n paar dae na
die voorval in hegtenis geneem.
Hartnick se liggaam is in sy kamer op die vloer aangetref met 'n gapende wond aan sy kop. Hy is vermoedelik verskeie kere met 'n stomp voorwerp geslaan. Daar word beweer dat Hartnick en Stalmeester oor erfgeld gestry het.
Hartnick se ma, Lenie wat ook Stalmeester se ouma is, het Dinsdag gesê sy is verlig hy bly in aanhouding.
"Alles is nog so onwerklik. Ernst se dood en die feit dat my eie kleinkind dit gedoen het. Dit raak soms te veel," het sy gesê.
Die Hartnick-egpaar het 'n paar maande gelede ook hul oudste seun, Patrick aan die dood afgestaan nadat hy in 'n ongeluk in Secunda dood is. Patrick was Stalmeester se pa.
Die saak dien voor landdros Faith Twala en Samantha Hendricks verskyn vir die staat. Stalmeester word deur me. B Scheel van die Regshulpraad verteenwoordig.
Ao. Vernon Jantjies van die Pacaltsdorp-speurdiens ondersoek die saak.