SUID-KAAP NUUS - Om die impak van Covid-19 op ons daaglikse lewe te verwoord is nie maklik nie.
Daarom het 'n uitgewer, Turksvy Publikasies, besluit om 'n projek aan te pak om digters die geleentheid te gun om woorde aan die pandemie te gee, iets wat mense kan bemoedig en waarna terugverwys kan word as ons uit hierdie tyd van inperking kom.
Sedert die pandemie die wêreld verlede jaar getref het, het dit mense se lewens ingrypend beïnvloed.
In dié vreemde grendeltyd het ons almal ’n behoefte daaraan om aan ons emosies uiting te gee. Ons leef al vir bykans 'n jaar agter maskers en mure, en het min sosiale kontak, en daar is ’n streep getrek deur ons daaglikse, doodgewone aktiwiteite.
Vrees oorheers, en ons doen alles moontlik om onsself te beskerm teen ’n vyand wat in die strate rondsluip op soek na nog ’n prooi. Slagoffers is nie net meer “iemand anders” nie … hulle het name, hulle is deel van jou gesins-, familie- en vriendekring.
Maskers en Mure, die titel van die bundel vergestalt dit waarmee ons nou moet saamleef.
Turksvy Publikasies, in samewerking met die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, het die projek van stapel gestuur om ’n digbundel te publiseer om hierdie tyd in die wêreldgeskiedenis in Afrikaanse gedigte vas te vang. Turksvy Publikasies is juis in die tyd van Covid-19 gestig om aan skrywers en digters 'n platform te bied om in Afrikaans uiting te gee aan hulle skryfwerk.
Die inisiatief van Maskers en Mure, het van De Jongh gekom, omdat hy as digter diep bewus is van die emosionele stryd waardeur mense tans gaan. Daniel Hugo, bekende digter, vertaler en radioman, het sy dienste aangebied om die keuring van gedigte te behartig.
Gevestigde digters word genooi om aan die projek deel te neem, maar opkomende digters word ook die geleentheid gegun om gedigte voor te lê. Die projek word moontlik gemaak deur borge wat reeds hulle ondersteuning bevestig het.
Inskrywings
Besonderhede van die wyse waarop inskrywings ingedien word en die sluitingsdatum sal, sal binne die volgende twee weke bekendgemaak word. Navrae kan intussen per e-pos aan turksvypublikasies@gmail.com of aan Daniel Hugo by danielhugo.skryf@gmail.com gerig word.
Suksesvolle digters, wat elkeen ’n gratis digbundel sal ontvang, sal binne twee weke ná die sluitingsdatum van hul opname verwittig word. (Die sluitingsdatum sal waarskynlik in Maart wees).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'