GROOT-BRAKRIVIERNUUS - Hondegevegte by Groot-Brakrivier se vullisstortingsterrein maak die gebruik daarvan deur die publiek, problematies. Dit blyk die gevolg te wees van haweloses wat in 'n stryd gewikkel is om andere die "reg" te ontsê om daar vir 'n heenkome te soek.
Dit is tans onseker of die hondegevegte onwettige gevegte is, en of dit net honde is wat met mekaar baklei het.
Hierdie toedrag van sake bring egter mee dat inwoners die fasiliteit nie meer wil gebruik nie en skep moeilike omstandighede vir personeel wat daar diens moet doen en/of die honde moet verwyder.
Die probleem het sy oorsprong by diegene wat kos of aalmoese uitdeel aan haweloses by die stortingsterrein. Aanvanklik was daar een of twee haweloses wat 'n klein inkomste gemaak het uit fooitjies wanneer hulle help om vullis van voertuie af te laai.
"Sedertdien het die aantal haweloses aangegroei. Dit wil nou voorkom asof die mense nou onder mekaar baklei en hul honde inspan in die gevegte om hul 'regte' op die inkomste wat hulle daar maak, te beskerm. Dit bring ongewenste omstandighede mee wat vir niksvermoedende inwoners 'n bedreiging inhou sou hulle deur aggressiewe haweloses gekonfronteer word," sê Mosselbaai se munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Volgens Le Roux is die gate in die heining om die fasiliteit deel van die probleem.
"Mosselbaai-munisipaliteit se gemeenskapsveiligheidsdirektoraat is bewus van die probleem en werk aan oplossings daarvoor. Intussen versoek die munisipaliteit inwoners om nie geld, kos of ander aalmoese aan die mense uit te deel nie omdat dit bydra tot die probleem.
"Die munisipaliteit versoek diegene wat graag 'n bydrae wil maak, om hul welwillendheidbydraes aan erkende, wettig-geregistreerde organisasies te gee wat kan help om vir die haweloses 'n heenkome te gee.
"Mosselbaai-munisipaliteit besef dat die nasionale inperking 'n uiters nadelige impak op werkloosheid het en dat baie mense hul werk verloor het. Tog word die gemeenskap se samewerking gevra om te verhoed dat hul goeie bedoelinge nie tot groter probleme aanleiding gee nie."
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'