Gallery
GEORGE NUUS - 'n Kreatiewe ma, wat haar lewe lank in George gewoon het, put ure se genot daaruit om klippe saam met haar twee seuns te verf.
Nadat sy haar werk in Februarie vanjaar weens 'n afleggingsproses verloor het, het Mercia Westraadt met haar Little Town-klippies begin.
Klippe van alle groottes word omgetower in huisies waarin dwergies en feetjies woon. Daarna word hulle iewers gelos vir iemand om te vind.
Dit vorm deel van 'n wêreldwye inisiatief waar gemeenskappe tydens grendeltyd klippies op allerlei plekke wegsteek - sommige met oulike boodskappe, ander met prentjies op.
Die idee is om 'n klippie weer elders weg te steek nadat dit gevind is.
"Mense neem 'n foto van die klippie, sê waar hulle dit gevind het, en plaas die foto op die Facebook-blad wat agterop die klippie aangedui word," het Mercia verduidelik. "Op hierdie manier hou mense binne grendeltyd steeds kontak met mekaar. Met so 'n klippie kan jy iets vir iemand beteken in hierdie onsekere tyd."
Wie woon in hierdie koddige huisie?
Fotogalery: ‘n Spoor van feetjie-klippe in grendeltyd
Mercia se klippies het egter so gewild geraak, mense is nie lus om dit weer weg te steek nie, en besluit dikwels om hulle vonds eerder te hou.
Een van Mercia Westraadt se pragtige Little Town-klippies.
Sommige winkels verkoop deesdae haar kunswerkies en mense vra daarna op sosiale media. "Ek sien dit as 'n groot eer. Dis die lekkerste lekker om te weet iemand geniet die verbeeldingswêreld," het sy gesê. "Soms los ek een in 'n Checkers- mandjie - daar waar 'n baba sou sit. Ander dalk op 'n bankie langs die see. Voetpaadjies is ook 'n gewilde wegsteekplek."
Mercia het in 1994 aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Sy is destyds, as skoolkind, geïnspireer deur die werk van Ruby Reeves, 'n kunstenaar van George wat klein kunswerke met dunhaarkwassies en 'n vergrootglas geskilder het.
"Ek het 'n projek oor haar gedoen. Nou, 27 jaar later, het sy steeds 'n invloed op my werk en my denke," het Mercia gesê.
Na haar aflegging het die wêreld na 'n donker plek gelyk, maar sy het vreugde in haar klippies gevind.
"Aanvanklik het my man gesê dis sommer 'n pot sn&t, maar dit was nie lank nie toe kom hy ook met sy klippies by die huis aan. Ons eetkamer is intussen omskep in 'n studio en die seuns geniet dit geweldig baie om saam met my te verf."
Deur die plaaslike Facebook-blad, Southern Cape Rocks, dop te hou kan 'n mens deel wees van die klippie-inisiatief.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'