Met ter perse gaan wou Lee se broer, Chris Lee, nie die privaatspeurder se naam bekend maak nie, maar hy het wel bevestig dat die Lee-familie ’n privaatspeurder aangestel het en dat hy van Kwazulu-Natal af op pad is na Hoekwil. Die Lee-familie woon in Pinetown.
Volgens Chris Lee vermoed die Lee-familie dat Graig vermoor is.
Lee se erg verbrande liggaam is Saterdagnag 5 November in sy splinternuwe Renault Megan in die oprit van sy vriendin, Bianca Oelofse, se ouerhuis in Hibuskusstraat, Kleinkrantz gevind. Aanvanklik is beweer dat hy homself aan die brand gesteek het ná ‘n heftige rusie met Oelofse by sy woonstel op ‘n plot in Hoekwil. Lee en Oelofse het saamgewoon.
Oelofse het na bewering kort ná die rusie na haar ouerhuis, ongeveer 20 km van waar sy en Lee gewoon het, gery om hulp te soek. Die George Herald het bevestiging ontvang dat Oelofse die nag van die rusie mediese behandeling ontvang het. Die omvang van haar beserings wat sy vermoedelik in die rusie opgedoen het, is nie bekend nie. Dit blyk egter asof sy ‘n kneusbesering aan haar oog opgedoen het.
Die eienaar van die plot waar Graig Lee die woonstel gehuur het, Daniël Janse van Rensburg, het Dinsdag aan die George Herald gesê Lee het diep in hul harte ingekruip en was ‘n baie sagte mens. "Ons treur oor sy dood en sukkel om dit te verwerk," het Janse van Rensburg gesê. Hy het die George Herald toegelaat om Lee se woonstel te besoek.
Tydens die besoek het Janse van Rensburg se buurman, Salie Gerber, gesê die omstandighede rondom Lee se dood maak nie vir hom en die ander inwoners sin nie. Stille getuienis wat die aanvanklike beweringe van selfmoord verkeerd kan bewys, is op die toneel gevind. Die skuifdeur, wat die enigste ingang na die woonstel is, se slot is uit die kosyn gebreek. Bloedvlekke is teen die mure, kamervenster, asook op die bed gevind.
Bewyse dat die polisie ‘n forensiese ondersoek op die toneel gedoen het, was ook duidelik sigbaar. Beweringe dat ‘n gebreekte kierie, wat nie aan Lee behoort het nie van die toneel verwyder is, is ook geopper. Moontlike bewyse dat Lee se motor se ruite reeds in Hoekwil by sy woonstel uitgeslaan is, is ook gevind. Die parkeerplek waar die motor die aand gestaan het was vol fyn glas, wat vermoedelik afkomstig is van sy Renault Megan.
Ooggetuies, waaronder die buurman Gerber, het aan die George Herald gesê dat hy by drie geleenthede gesien het hoe mense meubels, beddegoed, ‘n skootrekenaar en ‘n selfoon van die toneel verwyder die oggend na Lee se dood.
Chris Lee het aan die George Herald gesê: "My broer was nie iemand wat sou selfmoord pleeg nie. As hy probleme gehad het, het hy altyd sy ma gebel, wat hom moreel bygestaan het. Ons as familie van Graig vermoed hy is in sy woonstel vermoor, in die motor gelaai en toe elders in sy motor aan die brand gesteek," het Chris Lee gesê.
Lee en Oelofse is die betrokke Saterdag nog saam by die Hoekwil Rockfees gesien. Volgens ander feesgangers het hulle baie gelukkig gelyk.
Liefdesbriefies en foto’s in die Lee-Oelofse woonstel dui ook daarop dat hulle baie gelukkig was. "I love you my princess! I love you forever! Thanks for being you. I love you with all the love that I have." Dit was frases uit briefies wat Lee aan Oelofse geskryf het.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse-polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê: "Ons doen tans ‘n geregtelike doodsondersoek en vermoed in dié stadium geen gemene spel nie. Ons wag ook nog op die uitslae van die nadoodse ondersoek wat sal aandui presies hoe Lee dood is."
Pojie het gevra dat persone met inligting oor die voorval vir adjudant-offisier Allie du Plessis kontak by 044 803 4715.

Die erg uitgebrande Renault Megan waarin Graig Lee se liggaam gevind is.
.jpg)
‘n Verslae Salie Gerber vertel wat hy dink gebeur het die nag van Graig Lee se dood. In die agtergrond is Lee se woonstel op ‘n plot in Hoekwil. Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS