Update
GEORGE NUUS - Eswill Biel (41), eienaar van Boston's Tavern in Parkdene, is skuldig bevind aan die koelbloedige moord van Jeanette October (58) wat oorkant die kroeg gewoon het.
Biel het gister, Donderdag 6 September, in die Thembalethu-streekhof verskyn.
Buiten die aanklag van moord is hy ook skuldig bevind op 'n aanklag van poging tot moord op Curno October, die oorledene se seun, sowel as 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Biel is onskuldig bevind op 'n klag van poging tot moord op Virgil October, Curno se broer.
Landdros Pumela Yono het in haar uitspraak genoem dat die vyf staatsgetuies se weergawes van gebeure, nie heeltemal ooreenstem nie. Sy het egter bevind dat dit wel konsekwent is en moontlik is om bo redelike twyfel te bepaal hoe die moord plaasgevind het.
Die tragedie het Maandag 28 November 2016 in Saturnusstraat, Parkdene, afgespeel nadat Biel en October vroeër die middag in 'n woordewisseling betrokke was.
Yono het gesê Biel het later teruggegaan na die huis en October met ‘n glas gegooi. Biel het daarna glo 'n voorwerp wat lyk soos 'n knuppel, uit sy motor gaan haal en October teen die kop geslaan.
Biel het die huis verlaat nadat die oorledene se twee seuns Virgil en Curno hom gekonfronteer het. Hy het egter teruggekom met ‘n vuurwapen in sy sak. October het probeer keer om die huis binne te gaan, maar was vermoedelik van balans weens die hou teen haar kop en kon nie haar huis se voordeur gou genoeg toekry nie.
Sy het omgedraai om te vlug, waarna Biel haar in haar voorkamer in die rug geskiet het.
Biel word op Vrydag 21 September gevonnis.
Lees vorige artikels hier:
- Woedende inwoners sluit taverne
- Skieter kry R10 000 borg
- Ontstoke inwoners sluit taverne
- Opvolg: Skieter klap glo hande na moord
- Opvolg: Vrou in haar huis doodgeskiet
- Vrou in haar huis doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'