Update
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die drama en plundery verlede Vrydagaand by Boston's Tavern in Saturnusstraat, Parkdene, hou vermoedelik verband met die moord van 'n geliefde inwoner, wat in dieselfde straat gewoon het, in November 2016.
Woedende inwoners waaronder familie van die vermoorde Jeanette October (58) het na die taverne opgeruk en geëis dat die plek, wat nou deur buitelanders bestuur word, sy deure sluit.
Die eienaar van die taverne, Eswill Biel (in sy 40's), is aangekeer vir October se moord. Sy is op 28 November in haar huis, wat oorkant die taverne geleë is, doodgeskiet nadat sy en Biel vroeër die middag in 'n argument betrokke was. Biel sou na verwagting vandeesweek weer in die hof verskyn.
Drama en plundery
Die polisie is Vrydagaand gou na die toneel ontbied nadat die gebou en 'n voertuig, wat glo aan een van die buitelanders behoort, met klippe bestook is.
Die mans is vir hul eie veiligheid onder beskerming van die polisie weggeneem en die deure gesluit.
Kort nadat die polisie vertrek het, het verskeie persone oor die hoë mure van die taverne gespring en die plek geplunder.
Drankbottels is uitgedra en aan mense in die straat uitgedeel. Dis onduidelik of die groep wat die gebou geplunder het, dieselfde groep is wat geëis het dat die taverne sy deure sluit.
Kyk 'n video hier:
Die polisie het vandeesweek bevestig dat drie mans in hegtenis geneem is na die oproer buite Boston's Tavern. Die drie verdagtes het Maandag op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld in die Thembalethu-landdroshof verskyn.
Twee verdagtes is op 'n waarskuwing vrygelaat en een bly in aanhouding. Al drie mans verskyn op 6 Maart weer in die hof.
SA sat vir misdaad
Vrydagaand se plaaslike geweld volg na 100de inwoners van Rustenburg in Noordwes sedert 10 Januarie die reg in eie hande geneem het en gastehuise wat buitelanders huisves aan die brand gesteek het.
Die oproermakers beweer die buitelanders is betrokke by dwelm-en mensehandel. Minstens twee mans is vermoor.
Ontstoke inwoners het Vrydagaand Botston's Tavern met klippe bestook en daarop aangedring dat dié besigheid sy deure sluit.
Die geweld het ook oorgespoel na Mogale City (Krugersdorp) aan die Wesrand van Gauteng waar inwoners eis dat die polisie misdaad in hulle gemeenskap sonder versuim vasvat.
Die middedorp is Maandag tot stilstand gebring en polisievoertuie en 'n polisiestasie is gevandaliseer en ander geboue an die brand gesteek.
Die polisie het met skokgranate en rubberkoeëls op die oproeriges geskiet. Minister van polisie, Fikile Mbalula, het intussen belowe om van korrupte polisiemanne en -vroue in die gebied ontslae te raak.
Die motor wat tydens die oproerigheid met klippe bestook is. Foto's: Brümilda Swartbooi
Lees 'n verwante artikel: Ontstoke inwoners sluit taverne
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'