GEORGE NUUS - Die eerste van die nuwe reeks gedenkplate van die George Erfenistrust is onlangs by historiese geboue en plekke aangebring. Een van die eerste plekke wat dit ontvang het is CTM George in Knysnaweg. Dit is vir die historiese rooiblom-bloekombome op die perseel.
Die bome is waarskynlik meer as 100 jaar oud en moontlik in die vroeë 1900's al aangeplant.
Gedenkplate is reeds 20 jaar gelede deur die George Erfenistrust ingestel. Wyle Andy Lamont het die inisiatief geneem vir 'n reeks gedenkplate in Pacaltsdorp. Soortgelyke gedenkplate is al by die NG Moederkerk en die katedraal in die middedorp aangebring. Dit is om erkenning te gee aan die erfenisbewaring van die gebied.
Verskeie van die nuwe gedenkplate sal mettertyd aangebring word. Benewens die erkenning uit 'n bewaringsoogpunt, word geglo dit kan help om toerisme te bevorder.
Hanlie Parker, een van die eienaars van CTM George, het gesê die gebou bestaan al bietjie meer as ses jaar. Sy en haar seun Frans Siebrits, besit die onderneming saam. Mense het destyds met die vestiging van die gebou vir hulle vertel van die geskiedkundige bome. Waar die bome staan, sou 'n parkeerterrein gebou word.
Foto's: Eugene Gunning
Toe hulle hoor van die geskiedkundige bome, het hulle besluit om aanpassings te maak. Dit het ook geblyk dat mens eers toestemming van die munisipaliteit moes kry. Die bome kon nie net afgekap word nie.
Hulle het die inrig van die parkeerterrein aangepas en die bome het behoue gebly. Hulle beskou dit belangrik vir bewaring.
Beide glo dat bewaring meer onder die aandag van die publiek gebring moet word. "As 'n dorp sy geskiedenis bewaar vir die nageslag, is dit goed," het Parker gesê. Hulle is bly oor die gedenkplaat en wys dit met trots aan besoekers.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'