GEORGE NUUS - Emsie Schoeman, die bekende etiket-kenner en een van die bekendste mense in Suid-Afrika is vandag, 22 Desember, 90 jaar oud.
Sy is oorspronklik van Wilderness en woon deesdae in Johannesburg.
Sy het onlangs die 100-jarige feesvieringe van Hoërskool Outeniqua in George bygewoon waar sy jare gelede skool gegaan het.
Emsie het vandag aan George Herald telefonies uit Johannesburg waar sy deesdae woon, gesê sy woon baie aangenaam daar. Sy beplan om aanstaande jaar weer 'n draai in Wilderness te kom maak.
Dit gaan goed met haar deesdae. "Ek bestuur nog my eie motor en is gesond. Die hitte kry my net onder."
Sy skryf nog aan haar outobiografie. "Gelukkig het ek goeie familie om my. Ek is dankbaar dat ek nog aan die gang kan wees. Die Here is goed vir my. Ek is dankbaar dat ek hier gekom het."
Haar advies aan mense is om versigtig te wees en moenie laat in die nag aan die gang wees nie.
Sy het ook advies aan die duisende vakansiegangers wat op die oomblik hier in haar geliefde wêreld ontspan en dit in die see waag. "Wees versigtig en moenie in die see swem nie. Baai in die see."
Emsie volg Springbokrugby. "Ek is baie trots op die Springbokke dat hulle vanjaar die wêreldbeker gewen het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’