GEORGE NUUS - Die plakkaatoorlog het begin. Met bietjie meer as vier maande voor die munisipale verkiesing op 27 Oktober, het die DA eerste tot die stryd toegetree wat onder meer gaan woed op die stad se lamppale.
Van sy verkiesingsplakkate hang sedert laat verlede week op lamppale in die stadskern. Dit moedig kiesers onder meer aan om te registreer vir die verkiesing.
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê daar is bepaalde verordeninge in munisipaliteite oor plakkate. Die DA respekteer dit. Die plakkate wat nou opgesit is, is met die oog op registrasie.
Die DA beskou plakkate as 'n belangrike deel van kommunikasie en beoog om sowat 40 000 plakkate regoor die streek op te sit in die aanloop tot die verkiesing in Oktober. In wyke sal kiesers kan sien hoe lyk 'n bepaalde DA-wykskandidaat.
Aseza Gungubele, adjunksekretaris van die ANC in die Suid-Kaap, het gesê die party is in die proses om sy kandidate te finaliseer. "Ons gee die gemeenskap 'n geleentheid om te kies wie hulle wil hê."
Sodra die kandidate gefinaliseer is, sal plakkate met die wykskandidate in die bepaalde wyke opgesit word.
Johan du Toit van die ACDP, het gesê die party sal nader aan die verkiesing plakkate opsit en adv. Gert van Niekerk van die VF Plus, het gesê die party sal ook binnekort plakkate opsit vir bewusmaking om te stem. Volgens Van Niekerk sal die party se grootste klomp plakkate nader aan die verkiesing opgesit word.
Munisipale voorskrifte en vereistes
Daar is streng munisipale voorskrifte en vereistes waaraan politieke partye moet voldoen as hulle plakkate wil aanbring.
Godfrey Louw, adjunkdirekteur: korporatiewe dienste by die George-munisipaliteit, het in antwoord op vrae van George Herald, gesê tydens 'n spesiale stadsraadsvergadering op 15 Junie, is besluit om politieke partye toe te laat om plakkate te vertoon om die publiek in kennis te stel van die registrasie naweek van 17 en 18 Julie.
Die bevoegdheid om enige verlengde tydperk daarna te oorweeg, word aan die munisipale bestuurder gedelegeer.
Volgens Louw is daar is geen spesifikasies ten opsigte van grootte van plakkate nie. Plakkate mag slegs by wyse van tou of soortgelyke materiaal aan lamppale geheg word en geen kleefmateriaal mag gebruik word nie.
Die beleid maak slegs voorsiening vir die aanbring van plakkate op lamppale. Daar is dus geen spesifieke plek/area waar plakkate opgesit mag word en/of nie opgesit mag word nie.
Daar mag nie meer as een plakkaat van 'n betrokke kandidaat of slagspreuk op 'n lamppaal aangebring word nie, met dien verstande, dat twee plakkate wel rug aan rug aangebring mag word.
Die stadsraad behou die reg voor om enige plakkaat, sonder die verstrekking van redes, te verwyder of te laat verwyder waar dit die sigbaarheid van enige verkeersteken belemmer, of indien dit volgens die mening van die munisipale bestuurder/direkteur: korporatiewe dienste ongewens is om 'n plakkaat op 'n spesifieke plek te vertoon.
Die bewoording op plakkate moet feitelik wees en geen aanstoot mag gegee word aan enige persoon, ras of geloof nie.
DA-plakkate in Yorkstraat in George se stadskern.
Bepaalde voorskrifte
Plakkate vir politieke byeenkomste mag drie (3) weke voor die gebeurtenis en in die geval van verkiesings, vanaf nominasiedag, aangebring word. 'n Administratiewe fooi sowel as 'n deposito soos in die tariewelys bepaal, moet vir die aanbring van plakkate deur partye betaal word.
Die volgende fooie vir die aanbring van plakkate is vir die huidige finansiële jaar van toepassing:
- Administratiewe fooi - R1 720,00
- Deposito - R3 443,00
Die deposito word betaal as waarborg dat die plakkate voor of op die vierde (4) werksdag ná die dag van die verkiesing/vergadering verwyder sal word. Die deposito is terugbetaalbaar nadat die wetstoepassingsafdeling bevestig het dat die plakkate verwyder is en die terugbetaling daarvan deur die direkteur: korporatiewe dienste gemagtig is. Die administratiewe fooi is nie terugbetaalbaar nie.
Plakkate moet voor of op die vierde weeksdag ná die dag van die verkiesing verwyder word en indien 'n party versuim om al die plakkate deur hul aangebring, te verwyder, hul deposito of 'n gedeelte daarvan, afhangende van die koste verbonde aan die verwydering daarvan, sal verbeur.
'n DA-plakkaat in George se stadskern baie naby aan die munisipale kantore.
Foto's: Eugene Gunning
The "poster war" has started. The local government elections take place on 27 October and political parties uses lamppole to put up their posters. In the next few weeks and months, lamppoles are going to be the battle ground where political parties communicate their messages. The first posters in George were put up late last week by the DA.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'