TUINROETE NUUS - Mosselbaai-inwoners en -besoekers sal tydens die naweek van 4 tot 7 Oktober die geleentheid kry om die eerste 'Simphonia' nasionale skole-orkeskompetisie in die Dias-museum by te woon.
Dié kompetisie volg na die suksesvolle Cantamus nasionale skolekoorfees wat elke Augustus in George aangebied word. Verskeie orkestipes sal deelneem, insluitend die Queens College se marimba-orkes (vanaf Queenstown), Paarl Gimnasium se koperblaasorkes en die Greenwood-skool se simfoniese orkes.
'Simphonia' word deur Suid-Kaap-sporttoere, in samewerking met die Suid-Kaapse musiekakademie en die Suid-Kaap Kinderkoor aangebied en poog om kulturele toerisme in die Suid-Kaap te bevorder.
Die openingsfunksie vind Donderdagaand 4 Oktober in die Dias-museum om 18.00 plaas.
Tydens die konsert sal orkeslede oor hul skole en orkeste uitgevra word en kans kry om mekaar voor die Saterdag-kompetisie met enkele orkesstukke uit te daag.
Deelnemende orkeste sal op Vrydag 5 Oktober vanaf 14.00 'n kostelose opelugkonsert by die Hartenbos-waterfront aanbied.
Plaaslike orkeste/skole wat graag op Saterdag 6 Oktober vanaf 14.00-17.00 van die geleentheid gebruik wil maak om kostelose opleiding, tesame met die deelnemende orkeste te ontvang, kan die organiseerders by 084 645 9320 skakel om plek te bespreek.
Deelnemende orkeste sal op Vrydag 5 Oktober vanaf 14.00 'n kostelose opelugkonsert by die Hartenbos-waterfront aanbied.
Beoordeling
Die beoordeling van orkeste vind Saterdagaand om 18.00 in die Dias-museum plaas, waartydens die wenners aangekondig sal word. Kaartjiepryse vir die openingsfunksie by die Dias-museum en/of die beoordelingskonsert beloop R60 per persoon, R30 vir skoliere, per konsert, en kan per SMS by 084 645 9320 bespreek word.
Kaartjies sal ook by die museumingang beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'