Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Daar heers groot opgewondenheid by die Erf 325-ontwikkeling in Pacaltsdorp. Meer as 60 begunstigdes van die Syferfontein informele nedersetting ontvang vanoggend sleutels vir hul nuwe huise in dié behuisingsprojek.
Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, is tans in George vir die spesiale geleentheid. George-burgemeester, Leon Van Wyk, is ook teenwoordig.
Die konstruksie van die Erf 325-ontwikkeling het reeds in 2018 begin. Die mikpunt is om met die voltooiing ‘n totaal van 1 650 BNG-eenhede (Breaking New Ground, voorheen genoem Hop-huise) op te lewer. Die huise bestaan uit dubbelverdieping-, semi-losstaande en losstaande eenhede.
Die ontwikkeling sluit ook 258 Flisp-huise (Financed Linked Individual Subsidy Programme) en 186 bekostigbare wooneenhede in.
Fotogalery: Syferfonteiners van die informele nedersetting ontvang nuwe huise
Behalwe die behuising bied die totale ontwikkeling ook 'n algemene residensiële erf, sewe kleuterskole, drie kerke en sewe kommersiële erwe.
Kyk 'n video hieronder:
Oor die jare het inwoners van Syferfontein gereeld navraag gedoen oor hul “groot skuif”. Talle huisgesinne van die gemeenskap het toentertyd op die munisipale stortingsterrein gewoon.
Hulle is later geskuif na die grond wat nou bekend staan as Syferfontein.
Vele gesinne het later by hulle aangesluit. Die area is egter nie geskik vir bewoning nie weens die feit dat dit ook vroeër gebruik is as ‘n stortingsterrein vir Pacaltsdorp.
Begunstigdes wag geduldig terwyl hulle luister na die openingseremonie.
Volgens een van die inwoners, wat vandag ook ‘n huis ontvang, is daar sowat 400 huisgesinne in Syferfontein.
Kyk 'n video hieronder:
Adrian Potts saam met sy ouma, Anna Johanna Potts in haar eerste huis ooit. Hulle gaan saam hier woon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'