GEORGE NUUS - 'n Onlangse slenter het 'n vrou van George-Suid laat besef dat daar mense is wat selfs oor die dood sal jok om 'n paar rand uit iemand te maak. "Twee vroue het laat Maandagmiddag, 22 April, by ons aangekom en ons vertel dat ons huishulp vroeër die dag aan 'n hartaanval oorlede is. Hulle het hul voorgedoen as familie van haar wat vir ons die tyding bring," vertel sy.
Strauss se man, Johann, vra hulle toe of dit Maria is wat dood is en die vroue bevestig dit met 'n "ja meneer, Maria is dood."
Geskok en hartseer neem ons daarvan kennis en word toe gevra of ons nie asseblief met taxigeld kan help om hulle by die huis te kry nie. Dit was te verstane. Ons het rondgekrap en eindelik R90 bymekaargekry om vir hulle te gee," vertel Strauss.
Maria leef
Die Strausse het egter die skok van hulle lewens gekry toe hulle Maria se familie bel om te simpatiseer en Maria toe self die telefoon antwoord. "Eers was ons verskriklik bly, maar toe sink die waarheid van die situasie in. Selfs die dood is nou 'n doel tot 'n middel, 'n manier om geld te maak uit ander se skok en hartseer."
Die Strausse het afgelei dat die dames nie regtig weet wie by die huise werk wat hulle teiken nie.
Hulle praat glo eers van "die vroutjie wat hier werk" tot jy jou huishulp, indien jy een het, se naam noem.
Volgens Strauss het 'n soortgelyke voorval by nog 'n huis in die buurt homself afgespeel. Ongelukkig vir die twee swendelaars het dié mense nie 'n huishulp nie.
"Ons wil graag ons bure en almal anders waarsku om bedag te wees en nie vir slenters soos dié te val nie. 'n Mens sink al dieper in 'n maalkolk van absoluut geen vertroue meer in die mensdom nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'