GEORGE NEWS - Middelmisbruik veral in skole en deur minderjariges is 'n euwel waarmee die samelewing al meer gekonfronteer word.
Daar is tussen 2018 en 2019 'n 18% toename in minderjarige aanmeldings by die South African Council on Alcoholism and Drug Dependence (Sanca) in George, sê Denise de Beer, hoof van Sanca George.
Vanjaar is 52% van die innames minderjariges en Sanca skryf dit toe aan skole wat meer toeganklik is vir dienslewering en besef dat hulle nie meer die probleem alleen kan hanteer nie. Skole is die hoogste verwysing van minderjariges aan Sanca en ouers wat hul kinders inbring, is gewoonlik deur die skool aangeraai om dit te doen. Sommige plaaslike skole laat ook toe dat Sanca tydens skoolure met hul leerders kom praat en hulle inlig oor dit wat hulle van verbode middels moet weet.
Wat en waarom?
De Beer sê ook dat die stigma wat onder die gemeenskap heers dat groepsdruk die groot sondebok is wanneer dit kom by kinders wat verbode middels gebruik, nie noodwendig gewig dra nie. Sanca het vasgestel dat die hoofoorsake van middelmisbruik nuuskierigheid, probleem-hantering, gebrek aan ander aktiwiteite, met ander woorde verveeldheid en 'n soeke na aanvaarding is.
Die algemeenste middel wat deur skoolkinders gebruik word is dagga en alkohol. Tik word wel deur minderjariges gebruik, maar is nie so algemeen soos by persone ouer as 18 nie.
Tik-kristalle
Tekens van middelmisbruik
Ouers kan uitkyk vir skielike veranderings in gedrag en persoonlikheid, periodes waar hulle hiperaktief of geïrriteerd is en kinders wat gereeld bang, angstig of paranoïes vir geen rede is nie.
Verdere tekens is 'n onverklaarbare nodigheid vir geld, geheimsinnige gedrag en veranderinge in aptyt en slaappatrone.
Oorsake van middelmisbruik
Volgens De Beer is afwesige ouers een van die hoofoorsake wat lei tot middelmisbruik by minderjariges. Ouers moet 'n oop en eerlike kommunikasielyn vestig om te verseker dat hulle deeglik bewus is van dit wat in hul kinders se lewens aangaan en enige probleme wat hulle mag ervaar.
"Dit is baie belangrik om te onthou dat tieners se gedrag sal verander as gevolg van hul veranderende hormone,'' sê De Beer. Ouers moet bewus wees van wat normale tienergedrag is en wat nie. Sy voeg by dat 'n tiener byvoorbeeld aggressief kan wees as gevolg van sy ouderdom, maar dat middelmisbruik hierdie aggressie "tien keer erger sal maak".
Sanca bied ook opleidingsprogramme vir ouers aan in die verband. Vir meer inligting hieroor kan Sanca gekontak word by 044 884 0674.
- Marizyl Marais is 'n eerstejaarstudent in taal en kommunikasie aan die Universiteit van Noord-Wes. Sy het vir 'n week skaduwerk by George Herald gedoen. Marais is 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'