GEORGE NUUSFLITS - Die polisie het al verskeie persone ondervra in verband met die gesteelde selfoon van die vermoorde sakeman, mnr. Leon du Rand (56) van Heatherpark.
Dit was die afgelope naweek twee maande sedert mnr. Du Rand op Valentynsdag in die vroeë oggendure in sy huis in Meentstraat vermoor is.
Kaptein Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister by navraag oor vordering in die saak gesê sy kan bevestig dat die polisie wel persone ondervra het oor die selfoon, wat steeds vermis word.
"Die ondersoek is egter op 'n sensitiewe stadium en ons gaan ons dus nie uitlaat rondom die ondersoek nie. Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie en die ondersoek duur voort."