Die bestuurder, mnr. Vuyani Sondoso (35) het glo vir verkeersbeamptes en die polisie probeer wegjaag toe hy die 12 jong mense, onderskeidelik tussen 3 en 22 jaar oud, in Melford Notshokovustraat met die bakkie getref het. Hulle was almal binne twee erwe waar kinders gespeel het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 12:30 plaasgevind.
Sondoso is in Sandkraalweg, deur verkeersbeamptes opgemerk en is beveel om af te trek. Die verdagte was vermoedelik onder die invloed van drank en het weggejaag.
Polisiebeamptes wat op patrollie was, het gesien hoe die verkeersvoertuig Sondoso jaag en het hom ook agternagesit.
Tydens die wilde jaagtog is Sondoso herhaaldelik oor luidsprekers versoek om te stop, maar hy het hul opdragte geïgnoreer.
"Hy het eers in Vuyani Ncamazastraat afgedraai en toe in Melford Notshokovustraat. Daar het hy deur twee huise se buitemure gebars, en die 12 jong mense waar hulle binne die erwe gespeel het raakgery," het Pojie gesê. 'n Hond is ook deur die bakkie getref.
ER24 en Metro-paramedici was almal op die toneel om na die beseerdes om te sien waarna hulle na die George-hospitaal vervoer is.
Volgens Ethne Julius, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, is drie seuns steeds in die hospitaal. Een van die seuns het hoof- en borsbeserings asook gesig- en beenfrakrure opgedoen en is steeds in die intensiewe-eenheid. Dokters het bevestig dat hy buite gevaar is en dat hy later vandeesweek geopereer sal word.
Nog 'n seun is in 'n stabiele toestand met 'n beenfraktuur, terwyl die derde seun vir 'n ligte hoofbesering en beenfraktuur behandel word.
Sondosa, wat op die toneel in hegtenis geneem is, het Maandag in die Thembalethu-landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, dronkbestuur en bestuur van 'n voertuig sonder 'n lisensie. Borgtog van R5 000 is toegestaan, maar volgens Pojie is Sondoso nog in aanhouding omdat hy nie sy borg kan betaal nie.
Die regmatige eienaar van die bakkie het ook 'n klag teen Sondoso ingedien omdat hy die voertuig sonder toestemming bestuur het. Sondoso is hiervoor 'n boete van R1 500 opgelê of drie maande gevangenisstraf. Die saak is uitgestel tot 20 April.
• Inwoners ongelukkig oor jaagtog
'n Paar inwoners van Lawaaikamp het vandeesweek hul ongelukkigheid uitgespreek oor die wilde jaagtog van die polisie en verkeer wat tot die ongeluk gelei het. Hulle meen die polisie en verkeer moet dit ernstig oorweeg om alternatiewe metodes te gebruik om motoriste wat wegjaag, aan te keer - 'n metode wat nie onskuldige mense of hul eie lewens in gevaar stel nie.
"Kyk net wat het die naweek in Hartenbos gebeur met die twee dogtertjies wat dood is, ook nadat die polisie die beweerde dronkbestuurder gejaag het. Daar was so paar jaar gelede ook 'n ongeluk in Yorkstraat waarin twee jong mans van Uniondale dood is nadat hulle vir die polisie weggejaag het," het een inwoner gesê.
'n Ander inwoner met wie die George Herald gepraat het, meen egter dat die polisie en verkeersowerhede reg opgetree het.
"Wat sou die publiek gesê het as die polisie en traffics die ou maar laat gaan het,en hy dan 'n ongeluk veroorsaak het wat iemand se dood veroorsaak het? Hulle sou vra, waar was die polisie en verkeer, hoe kon hulle die man laat wegkom? Ek stem egter saam dat daar meer verantwoordelik opgetree moet word wanneer hulle iemand teen 'n hoë spoed agternasit," het die inwoner gesê.

Een van die beseerde seuns wat Saterdagmiddag in Lawaaikamp raakgery is.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS