Gallery
GEORGE NUUS - Vir 'n rukkie het 'n deel van die parkeerterrein van Redefine-boulevard in Yorkstraat op Sondag 6 Desember aan diereliefhebbers behoort. Hier het almal bymekaargekom om deel te neem aan Pote in Nood.
Dit het onder die vaandel van Wiele vir Liefdadigheid plaasgevind en kos en ander noodsaaklikhede is vir behoeftige diere ingesamel.
Organisasies wat selfonderhoudend is soos byvoorbeeld PDSA en Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) is gehelp.
Ondersteuners het met sakke kos en komberse opgedaag en 11:15 in 'n konvooi vertrek na OpiSpoor Pub & Grill in Groot-Brakrivier waar 'n funksie gehou is. Baie van die ondersteuners het met ysterperde die rit aangedurf.
Anton Meyer, die organiseerder, het gesê die geleentheid was 'n groot sukses en is deur meer as 100 mense bygewoon.
Hy het Wiele vir Liefdadigheid in 2015 as 'n nie-winsgewende inisiatief begin om mense in nood te help.
"Dit is omdat ons wiele gebruik om deel te wees van hierdie liefdadigheidsgeleentheid. Enige voertuig is welkom, motor, bakkie, motorfiets, trapfiets -al voorwaarde om deel te wees, is 'n sakkie kos, kombers of 'n blikkie kos, vir die dierekinders wat dit nodig het."
Van die eerste geleenthede was vir kinders met kanker. "Ons het in die laaste helfte van 2015, verskeie byeenkomste gehad, onder andere twee na Oudtshoorn. Persone en klubs van so vêr as Oos-Londen en Port Elizabeth het die geleentheid ondersteun."
Daarna het hy dit verander om net diere te help, spesifiek organisasies wat selfondersteunend is en meestal staat maak op skenkings, organisasies soos Odin en PDSA.
"Ek het besluit om twee geleenthede elke jaar te hou - die eerste naweek in Junie vir Odin en die eerste naweek in Desember vir PDSA. Deur die jaar, help ons ook vir Cats Garden Route / Furever Cats."
Van die goedere wat ingesamel is by OpiSpoor Pub & Grill in Groot-Brakrivier.
Benewens kos en komberse, is geld ingesamel vir medikasie en ander benodighede. Hy het die publiek en privaat ondernemings bedank want sonder hulle sou die geleentheid nie kon plaasvind nie.
Hy het sy dank aan onder meer Terry’s Auto, Landy World, Pitbull Moto Krew en Gallie Sweis, uitgespreek.
Die bal is reeds aan die rol vir die volgende geleentheid. Die plan is om op 6 Junie 2021 na Oudtshoorn te ry en Odin te help.
For a short while on Sunday part of the parking area at the Redefine Boulevard in York Street belonged to animal lovers. It is called Pote in Nood (Paws in Need) and took place under the banner of Wiele vir Liefdadigheid (Wheels for Charity). Supporters brought animal food and blankets. At 11:15 they travelled to OpiSpoor Pub & Grill in Great-Brak River. According to organiser Anton Meyer, more than 100 people attended.
'Ons bring jou die nuutste George, Garden Route nuus'