Dit het onder luide toejuiging en handegeklap vanuit ‘n raserige, vol publieke galery in die burgersentrum plaasgevind.
George se nuwe burgemeester, Charles Standers, van die DA, het in sy inhuldigingstoespraak gesê hy wil ‘n burgemeester vir alle gemeenskappe wees en nie net vir sekere groepe nie. Hy het met 28 stemme die ANC-genomineerde Bazil Petrus (met 21 stemme) uitgeskakel.
Met dieselfde verdeling van stemme het Daniël Maritz die onderburgemeestersposisie voor Charlie Williams opgeraap.
Cope, die GOBF en ACDP, elk met een setel op die raad, het hulle stemme gevoeg by dié van die DA, wat 25 setels het, nadat daar blykbaar vooraf met dié drie partye tot ‘n ooreenkoms gekom is. Cope het nasionaal ook ‘n samewerkingsooreenkoms met die DA.
Icosa en die PBI (Pacaltsdorp Besorgde Inwoners), ook elk met een setel op die raad, het hul kruisies agter die name van die twee ANC-kandidate vir dié twee poste getrek.
Daar was een bedorwe stem toe vir die Speaker gestem is. Mercia Draghoender (DA) het met 27 stemme in die stoel gaan sit, wat beteken dat een van die drie ondersteunende partye nie met haar as kandidaat tevrede was nie. Die ANC se kandidaat, Welena Witbooi, het die orige 21 stemme agter haar verenig.
Standers het later by navraag gesê die feit dat hulle van die minderheidspartye se stemme in hierdie vergadering gekry het, beteken nie dat die partye in die toekoms gaan saamwerk nie. "Ek het al voorheen aangedui dat ek met alle partye sal saamwerk ter wille van die vooruitgang van die dorp."
100-dae-plan
In sy inhuldigingstoespraak het Standers klem gelê daarop dat die nuwe raad ‘n munisipaliteit moet skep wat verantwoordbaar is en volhoubare dienste lewer. Op grond hiervan gaan hy ‘n "100-dae-plan" van stapel stuur met die fokus op die daarstelling van effektiewe, korrupsievrye regering. Die opknapping van die stadsbeeld gaan onder meer aandag kry deur ‘n herstelaksieprogram en bestaande behui-singsprojekte gaan geëvalueer word ten einde kwaliteit behuising te verseker.
Klagtedirektoraat
Verder sal die vulling van kritieke poste soos dié van munisipale bestuurder en kapasiteitsbou van raadslede en amptenary aandag geniet. ‘n Ouditafdeling en klagtedirektoraat binne die kantoor van die burgemeester sal ook gevestig word. Die wets-toepassingsafdeling se werksaamhede sal onder andere geoudit word.
Standers wil ook skoon woonbuurte skep, woonbuurttrots aanwakker en George as ‘n toerismestad bemark.
Vyfjaarplan
Die 100-dae-plan vorm deel van ‘n vyfjaar-diensleweringsplan wat beplan word en wat onder meer armoedeverligting, vaardigheidsontwikkelings- en werkskeppingsprogramme insluit.
"Oor die volgende vyf jaar wil ons ‘n stad skep waar mense gehalte dienslewering ontvang en in harmonie saamleef. Die tyd het aangebreek dat daar aan die beloftes wat maklik in retoriek verval, gestalte gegee word en dat dit tot aksieplanne gevorm word," het Standers gesê.
.jpg)
Die burgemeester, Charles Standers, met onderburgemeester Daniël Maritz en Speaker Mercia Draghoender aan sy sye.
.jpg)
The new mayoral committee members and their portfolios are from left (front) Flip de Swardt (Housing), Mercia Draghoender (Speaker), Charles Standers (mayor), Daniël Maritz (deputy mayor), Iona Kritzinger (Safety and Security), Jacoba Muller (Social Services), (back) Johan Stander (Planning), Lionel Esau (Human Resources), Jurie Bezuidenhout (Civil Engineering Services), Isaya Stemela (Corporate Services) and Leon van Wyk (Finance). Insert: Cope Cllr Wilbur Harris (Electrotechnical Services). Photo: Ilse Schoonraad
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER