Dr. Philippe Menière (60) en Agnes Jardel (55) se liggame is verlede Donderdag-oggend omstreeks 11:54, ná ‘n wilde skie-tery, uit ‘n plaashuis op die plaas Hardie, buite Sutherland, gedra. Die finale bloedige einde het ‘n volle ses minute geduur.
VRAAG: Beskryf wat die oggend voor die skietery aangegaan het op die dorp waar die meeste joernaliste en polisie tuisgegaan het?
Joernalis Een:
"Ek het die Donderdagoggend 05:30 opgestaan en besluit om die polisie vroeg-oggend al te begin volg. Die kompetisie tussen die joernaliste om die beste storie of nuwe inligting te kry, was intens. Almal was daar - van die koerante en radio tot televisiespanne. Daar was geen polisie-voertuie op die plaaspad (na Hardie) toe nie en ek het teruggedraai dorp toe. Terug in die dorp het ons gehoor daar sou eers 09:00 en toe 11:00 ‘n mediakonferensie wees. ’n Polisiekombie het voor die polisiestasie gestop (oorkant die pad van waar die mediakonferensie gehou is) en die deur is oopgemaak sodat ons die rugsakke en ander items wat aan die Franse behoort het, kon afneem."
Joernalis Twee: "Ons het daardie oggend twee of drie keer verby die huis gery waar die Franse ure later sou sterf. In die hotelkroeg het die polisie ons die vorige aand begin vermy. By daai huis het my kollega nogal opgemerk sy voel asof ons dopgehou word."
Joernalis Drie: "Ek het die oggend met my lysie van vrae vir ‘n moontlike onderhoud begin. Die dorpie was so stil! Die winkels maak dan oor die etensuur glad toe! Die eienaar van Hardie is media-voos en wil nie met my praat nie. Die polisie ook nie. Ek en die fotograaf oorweeg om deur die veld te kruip om foto’s te kry wat die ander nie het nie..."
VRAAG: Was dit nie effens vreemd dat die mediakonferensie feitlik op dieselfde tyd gehou is as toe daar op die Franse toegeslaan is nie?
Joernalis Een: "Tydens die mediakonferensie het ek agtergekom als is nie pluis nie, en ek het besluit om uit te glip en plaas toe te ry (27km buite die dorp). My gevoel was dat die polisie dit so beplan het. As die polisie werklik die Franse se rugsakke en goed wou gewys het, kon hulle dit al vroeg-oggend gedoen het, want dis al Vrydag agter op die bakkie gevind waarmee die Franse die veld ingejaag het."
Joernalis Twee: "Ons was al ‘n ruk in die mediakonferensie toe daar skielik aksie buite is. Polisievoertuie het verbygejaag en ons het almal by die deure uitgepeul en gehardloop vir ons voertuie, kameras word oorgehaal, alles in een! Die een span probeer vinniger as die ander een wegkom in ‘n malle gejaag grondpad toe! Ek het nie tyd gehad om te dink of die polisie ons aspris in die dorp probeer besig hou het terwyl hulle reeds geweet het wat volgende gaan gebeur nie."
Joernalis Drie: "In die middel van die perskonferensie hoor ons net skreeuende bande en my fotograaf is skoon onder my uit! Ek moet ‘n saamrygeleentheid by van die ander spanne kry. Later sou ons uitvind die buurvrou het al die vorige aand deur daai huis se vensters gekyk en die Franse gesien en toe die polisie laat weet."
VRAAG: Waar was jy tydens die skietery?
Joernalis Een: "Ek het in die grondpad bo die plaashuis gestaan, omtrent 120-150m van die agterkant van die huis waar die Franse ontdek is. Vandaar kon ek alles hoor wat gebeur, maar nie die voordeur sien nie. Die polisie het ons heeltyd verder en verder probeer wegskuif."
Joernalis Twee: "Ons het net na die laaste skote gevuur is in ‘n stofwolk daar aan-gekom, maar die energie het nog soos ‘n onsigbare kragveld om die plek gehang. Ons het nie geweet of die Franse dood of lewend was nie. Als was surrealisties, soos iets uit Natural Born Killers."
Joernalis Drie: "Die skote het enkele minute tevore gestop toe ons daar aankom. Oral kon jy verslae joernaliste en fotograwe sien. Hulle lyftaal het alles vertel. Dis oor. Ek het ‘n draai in my maag gekry toe ek sien waar die skietery was - dis waar ek en die fotograaf die vorige middag wou gaan aanklop het om toestemming te vra om oor die erf te ry! Ek het die paartjie ontsettend jammer gekry, dat hulle só moes sterf. Daar was iets bitterlik tragies aan die hele storie."
VRAAG: Beskryf kortliks die skietery soos jy dit ervaar het?
Joernalis Een: "Polisie omsingel die huis en lede in kamoefleerdrag beweeg nader aan die huis. Die atmosfeer is elektries. Kamoefleerdraglede beweeg tot op stoep. ‘n Skokgranaat gaan af, ek hoor twee slae. ‘n Sarsie van ongeveer sewe skote volg. Ek voel die sweet koud teen my sye afloop. ‘n Verskriklike stilte heers. My ore sing. ‘n Vrou binne die huis skree iets wat ek nie kan uitmaak nie. Nog ‘n sarsie skote. Weer stilte. ‘n Polisiehelikopter kom land ongeveer 100m van die huis af aan die teenoorgestelde kant. Ná die stilte is die geraas skrikwekkend. Nog ‘n sarsie van ongeveer nege skote. Ek sien polisielede uit die huis kom en mekaar op die skouer klop. Die komoefleerdragouens gee mekaar high fives. Ek hoor SAPD-lede sê die plek is ‘lekker opgeskiet’."
Joernalis Twee: "Ek het die skietery net-net gemis en die polisie se intervensie-eenheid het ons nog 100m verder weg-geskuif. Na ‘n ruk het die polisiewoord-voerder, Lt.-kol. Hendrick Swart, kom bevestig dat die Franse dood is. Die polisie en joernaliste het grappe gemaak oor hoe erg die laaste paar dae was."
Joernalis Drie: "Van die plaashek af het ek probeer sien wat aangaan - jou gedagtes jaag. Ek kon nie glo die huis wat nou omsingel word, is 10 meter van waar die polisie en die media vir die afgelope vyf dae verbygery het nie. Hulle was al die tyd hier reg onder ons neuse, sjoe!"
VRAAG: Dink jy dit kon verhoed gewees het dat die Franse doodgeskiet word, of dink jy hulle het selfmoord gepleeg?
Joernalis Een: "Daar was geen rede vir die polisie om die huis te bestorm nie. Daar was geen gyselaars nie. Myns insiens sou dit beter gewees het om net die huis te omsingel. ‘n Stand-off met die Franse sou maklik gewees het. Die polisie kon traanrook gebruik het om hulle uit die huis te dryf."
Joernalis Twee: "Na die skietery was dit weer ‘n malle gejaag om ons stories voor die kompetisie gestuur te kry. Verskeie polisielede het aanmerkings gemaak wat daarna verwys het dat die Franse moontlik selfmoord gepleeg het. As dit die geval was, op wie het hulle dan so geskiet? Ander het weer oor en weer gespot oor hoeveel rondtes hulle afgevuur het. Miskien het die Franse selfmoord gepleeg toe hulle besef hulle is omsingel, en het die polisie weens die spanning en adrenalien nog steeds geskiet? Dit bly ‘n raaisel."
Joernalis Drie: "Die mense se dood het my geruk. Dit raak my diep. Die Karoo-stilte, die dood, die dorre omgewing, alles het een geword. Op pad terug het niemand gepraat nie. Ek weet nie of daar ‘n proses van onderhandeling vooraf was nie, maar ek hoop so. Van die joernaliste het gevoel die oormag polisie - 85 lede - teen twee bejaardes was oormatig. Wat van hulle uithonger of traanrook? Was die Franse regtig ‘n gevaar vir die inwoners? Baie inwoners, ek inkluis, was nie daarvan oortuig nie. Dis my opinie dat die maak van ammunisie deur Menière ‘n heilige aksie was in voorbereiding vir wat hy en Jardel geglo het die einde van die wêreld in 2012 sou wees. Hulle het hulself totaal afgesonder vir die einde en was in die pylvak van hul voorbereidings toe die polisie op 14 Januarie met ‘n lasbrief opgedaag en al hul planne omver gegooi het. Daar is ‘n baie groter konteks buite die skietery. Wat my die bangste gemaak het - koue rillings gegee het - was die intensiteit, die fokus in die oë van die intervensielede. Bruin nette om die kop, swart en groen verf in die gesig. Hulle wou nie afgeneem word nie en was baie geheimsinnig. Na die skietery het die intervensielede met hul smart viertrekvoertuie verby gekom. Ek het in die oë gekyk van ouens wat dalk die skote op die tingerige Franse geskiet het. Oral was die akkommodasie tjok-en-blok vol, maar niemand het kom sterre kyk nie."
Polisiewoordvoerder
Volgens Lt.-kol. Swart is die lykskouing Dinsdag (25 Januarie) op die Franse gedoen. Swart sê dat wanneer die uitslag aan die direkteur van Openbare Vervolging gegee word, sal daar besluit word of iemand vir hul dood verantwoordelik gehou moet word of nie. Hy is oortuig daavan dat die Franse nie die hele week in dié huis geskuil het nie, maar eers moontlik Dinsdagnag (18 Januarie) daarheen teruggekom het, omdat hul spore voorheen in die veld gekry is. "Net na die skietery het ek 250 missed calls op my foon gehad. Ons sou graag wou gehad het die storie moes anders verloop het; tog is ons bly dis afgehandel," sê hy.
.jpg)
Die polisie fynkam die veld buite Sutherland in die omgewing van die plaas Hardie.
.jpg)
Die sakke koeëls en ammunisie wat tussen die Franse egpaar se besittings gevind is.
.jpg)
Lt.-kol. Hendrik Swart, polisiewoordvoerder van Kimberley, spreek die pers toe na alles verby is.