GEORGE NUUS - Altesaam 18 voertuie, waaronder 'n pragtige gerestoureerde 1926 Model T Ford en 'n 1929 Chev Phaeton, het Saterdagoggend uit George vertrek vir die sesde Liquorland Erfenistoer.
Liquorland, as hoofborg, het die toer vanjaar vir die vyfde keer moontlik gemaak.
Die Erfenistoer, wat vanjaar 'n Oos-Kaapse draai maak, is een van die hoogtepunte op die Suid-Kaapse Oumotorklub se kalender.
Die Erfenistoer vier Erfenisdag wat op 24 September was, asook Nasionale Toerismemaand, wat in September gevier word.
"Die toer vier Erfenisdag op 'n tasbare manier deur die spesiale erfenisgoed na die mense te neem," sê Pierre Olivier, voorsitter van die reëlingskomitee.
"Terselfdertyd vier die toer ook Toerismemaand in September en lê klem op die waarde van erfenisgoed vir die toerismebedryf."
Die groep het Saterdag sonder enige voorvalle met die R62-toerismeroete deur die Langkloof oor Kareedouw, Joubertina en Humansdorp na Jeffreysbaai gereis.
Saterdagmiddag is hulle gul ontvang deur die Jeffreysbaai Classic Car Club. Die klub het heerlike eetgoed voorgesit en publiek was gaande oor die ou motors.
Die groep het Sondagoggend na die dorpie Addo vertrek. Hulle het Erfenisdag met 'n heerlike braai gevier, en saam met die Southern African Veteran and Vintage Association ook 'National Drive It Day' gevier.
Maandagoggend het hulle uit Addo oor Kirkwood en Jansenville na Graaff-Reinet vertrek vir nog 'n dag volgepak met interessante erfenisgoed in dié historiese dorp.
Dinsdag het hulle na Willowmore gereis en Woensdag het hulle oor De Rust teruggekeer na George.
Die klub se doelwit is om die vervoer-erfenis te bewaar en hierdie kultuurskatte aan die breër publiek bekend te stel en belangstelling daarin aan te wakker.
Die Erfenistoer is deel van die bemarking van die jaarlikse George-oumotorskou, wat volgende jaar op 10 en 11 Februarie by die PW Botha Kollege se sportterrein in Yorkstraat plaas.
Die George-oumotorskou sal soos gewoonlik voorafgegaan word deur die immergewilde Veteraantoer, wat in 2018 vir die eerste keer oor vier dae gaan strek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'