GEORGE NUUS - 'n Bekende plaaslike sakeman, Carl Stammer van Huber Technology, is op Sondag 2 Mei in die Mediclinic George oorlede weens Covid-19-verwante komplikasies.
Dit was twee weke voor sy 50ste verjaarsdag. Volgens sy pa, Fritz, was dit 'n groot skok. Hulle was reeds besig om reëlings te tref vir sy partytjie.
Volgens Stammer sr. het Carl drie weke gelede 'n effense hoes ontwikkel. "Hy was dokter toe, maar is nie vir Covid-19 getoets nie, maar het toe bronchitis ontwikkel."
Op Saterdagoggend 24 April was hy skielik deurmekaar en kon hy nie asem kry nie.
Hy is in die Mediclinic se intensiewesorgeenheid opgeneem waar hy goed herstel het, maar die afgelope Saterdag, 1 Mei, het hy 'n terugslag gehad weens 'n beroerte. Sy toestand het daarna vererger en hy is die volgende dag oorlede.
Stammer sr. sê sy seun was 'n eerlike en hardwerkende persoon en altyd bereid om ander te help. "Hy was deeglik in sy werk en het dit altyd eerste gestel. Kliënte en die konsultantingenieurs met wie hy gewerk het, het na hom opgesien."
Carl het as meganiese ingenieur aan die destydse Vaaldriehoek Technikon (die huidige Vaal Universiteit van Tegnologie) gekwalifiseer. Terwyl hy nog gestudeer het, het hy by sy pa se onderneming betrokke geraak wat 30 jaar gelede gestig is.
Hy het vyf jaar gelede die bestuur van die besigheid by sy pa oorgeneem sodat laasgenoemde kon aftree, maar Stammer sr. moet nou noodgedwonge weer die leisels opneem.
Carl laat sy vrou, Estelle, twee seuns, Raynard en Zander, en sy ouers, Fritz en Gezina, agter.
'n Diens om Carl se lewe te vier, word komende Vrydag om 11:00 by Hope Church gehou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'