GEORGE NUUS - Daar was Sondag groot opwondenheid oor die uitrol van die Go George-busdiens na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp.
Die nuwe bydrae bied ook drie bykomende hoofroetes en een gemeenskaplike roete wat hierdie gebiede met mekaar en die res van die dorp verbind.
Inwoners het reeds vroeg Sondagoggend die busse ingewag om die nuwe roetes te toets.
Families het nadergestaan met kleinkinders om te kom uitvind waaroor al die opwinding gaan. Go George Champions, Amy Bruiners en Lindiwe Frans, het mense ingelig oor al die nuwe verwikkelinge. Bruiners sê: "Ons het reeds weke voor die tyd deur-tot-deur gegaan en mense ingelig oor die nuwe busroetes wat kom."
Chantel Edwards-Klose, die kommunikasiebestuurder by George-munisipaliteit, sê die meeste ritte op die eerste dag was werk toe en kerk toe onderneem aangesien nie-noodsaaklike ritte tans ontmoedig word in die lig van die Covid-19-pandemie. "Die driedaagse promosie van gratis ritte vir slimkaarthouers om die mylpaal te vier, is ook uitgestel om onnodige ritte te bekamp."
Wetstoepassingsbesmaptes was Sondag op die toneel in Parkdene waar die Go George-busse begin ry het.
James Robb, Go George-bestuurder, sê die projekspan hou hul oor op die grond vir terugvoering uit die gemeenskap om onmiddellik aanpassings te maak waar nodig.
“Wanneer 'n informele metode van openbare vervoer met 'n meer formele, geskeduleerde openbare vervoerstelsel vervang word, bied dit eiesoortige uitdagings in elke gemeenskap gedurende die eerste paar dae, en soms selfs weke.
"Op grond van inwoners se gebruikspatrone word daar soms roete- en tydroosterveranderings aangebring om ons passasiers se behoeftes aan te spreek. Soos mense die stelsel meer gereeld gebruik, verander hul gebruiks- en aanvraagpatrone.
"Ons neem dit in ag en streef daarna om, waar moontlik, verbeterings aan te bring totdat hierdie patrone stabiliseer. Spitstye, dit is tussen 05:30 en 08:30, en 15:30 en 18:30, word ook in ag geneem.
Magdalena Crowley was Sondagoggend die eerste passasier. Sy was op pad werk toe uit Parkdene na die middedorp. Die busbestuurder was Stuurman Williams.
“Go George bedank die gemeenskap vir hul begrip, geduld en voortgesette entoesiasme terwyl ons die kwessies wat 'n vroeër uitrol verhoed het, moes hanteer. Ons is geëerd en bevoorreg om uiteindelik die gemeenskap te kan dien,” sê Robb.
Lede van die nasionale uitvoerende komitee van Uncedo-taxivereniging, het ook Sondag hul ondersteuning kom wys met die uitbrei van die busdiens. Hulle het selfs 'n busrit vanaf Parkdene na die Garden Route Mall onderneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'