GEORGE NUUS - Inwoners van Borcherds is vuisvoos ná nog 'n moord in dié omgewing oor die naweek.
'n 21-jarige verdagte is Saterdag 27 Februarie omstreeks 20:45 in hegtenis geneem in verband met die moord op Graham Hartzenberg (19) van Borcherds.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, is die slagoffer se liggaam met 'n steekwond aan sy bors deur patrollielede in Andriesstraat aangetref.
Daar word beweer dat die verdagte en die oorledene in 'n bakleiery betrokke geraak het waarna die verdagte die slagoffer met 'n mes doodgesteek het.
Die verdagte is op Maandag 1 Maart in hegtenis geneem nadat hy homself aan die polisie oorgegee het. Hy was geskeduleer om gister (Woensdag 3 Maart) in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy verskyning nog nie bekend nie.
Die moord op Hartzenberg kom na 'n beweerde boendoe-hof voorval verlede Maandag, 22 Februarie, wat die lewe van 'n man, Marco Wala (31), geëis het. In nog 'n voorval dieselfde aand is nog 'n man (28) ernstig aangerand, na bewering deur 'n groep inwoners.
Volgens Spies is ses mense in hegtenis geneem na Wala verlede Maandagaand aangerand is.
Spies het in 'n verklaring gesê die beskuldigdes het die slagoffer in 'n huis in Suikerbekkiestraat, Conville, ingejaag waarna hulle die woning binnegestorm en hom [Wala] met skerp en stomp voorwerpe aangerand het. Wala het veelvuldige beserings opgedoen en is later op die toneel dood.
Inwoner vertel
"Maar," sê 'n inwoner, "julle ken nie die hele storie nie." Volgens die inwoner was Wala 'n lid van die berugte Rafoela-bende. Sy vertel hoe sowat sewe of agt lede van dié bende vroeër daardie Maandagaand in Figelandstraat, Borcherds, rondgeloop en inwoners gedreig en -intimideer het.
"Die mense wat in die straat was moes wegspring. Hulle [die bendelede] het met sulke groot kapmesse rondgeloop en inwoners uitgedaag en gevloek," vertel sy.
Die polisie is glo in kennis gestel, maar 'n groot groep inwoners het die bendelede agternagesit en tot in Conville gejaag voor hulle daar kon uitkom. "Dis toe dat die voorval in Suikerbekkiestraat gebeur," sê sy.
"Ons verstaan dat die polisie nie oral kan wees nie, maar iets moet gedoen word. Die inwoners is gefrustreerd met die situasie en keelvol dat die bendes die woonbuurt regeer. Ons het begrip vir die polisie se situasie, maar kan hulle nie net meer sigbaar wees en meer patrollies doen in die buurt nie," pleit sy.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies.
Boendoe-hof bly onwettig
Spies het benadruk dat dit onwettig is om die gereg in eie hande te neem en dat dit tot vervolging kan lei soos wat in dié betrokke voorval plaasgevind het.
"Ons verstaan dit, maar wat staan ons te doen? Die bendes maak nes hulle wil en ons moet in vrees leef. Ons wil nie eers ons kinders winkel toe stuur nie, want ons weet nie of hulle dalk in 'n lykswa terugkom nie. Ek sê wéér - ons besef die polisie kan nie binne minute uitkom nie, maar die oorsaak van die probleem moet aangespreek word," sê die inwoner.
Verdagtes in die hof
Die verdagtes in die Wala-moord, almal tussen 20 en 24 jaar oud, is ook positief verbind met die aanval op 'n 28-jarige man in Borcherds dieselfde aand. Vier van die beskuldigdes het reeds op Vrydag 26 Februarie in die George-landdroshof verskyn. Die ander twee wat ook betrokke is, het op Maandag 1 Maart verskyn.
"Al ses staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Hulle moet weer op 9 Maart vir 'n formele borgtogaansoek verskyn," sê Spies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'