GEORGE NUUS - Dis 'n taak van onmoontlikheid vir 'n Bolt-bestuurder om 'n vervoerpermit in George te kry. Só kla 'n Bolt-bestuurder, Kevin Lureman.
Hy sê daar is gerugte dat negatiewe insette van die George-munisipaliteit 'n rol speel in Bolt-bestuurders se aansoeke om vervoerpermitte by die Provinsiale Reguleringsowerheid, wat verantwoordelik is vir uitreiking.
"Dis glo omdat die munisipaliteit 'n situasie wil vermy waar minibustaxi-eienaars wat hulle vervoerpermitte afgestaan het ter wille van Go George se totstandkoming, weer sal wil aanspraak maak op permitte om in George diens te lewer. Indien dit waar is, is dit vir seker nie 'n geldige rede om Bolt-bestuurders se aansoeke af te keur nie," sê Lureman.
Hulle e-roepdiens voorsien in vervoerbehoeftes waarin nie Go George of minibustaxi's kan voorsien nie. "Ons lewer byvoorbeeld saans ná 22:00 ook 'n diens, onder meer vir mense wat nie wil drink en bestuur nie. Ons sal ook bejaardes wat inkopies doen, neem tot reg by die winkel of tot by hul huis. Ons help hulle selfs om hul pakkies te dra. Dis 'n baie persoonlike en veilige diens. 'n Bolt-bestuurder moet oor 'n professionele bestuurslisensie beskik. Die kliënt word deur die stelsel op hul foon in kennis gestel wanneer 'n Bolt-voertuig op pad is sodat hulle weet dat dit 'n geregistreerde bestuurder is wat hulle oplaai.
"Bolt en Uber word op ander dorpe toegelaat, maar nie in George nie."
Jandré Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, sê hy sal nie kommentaar lewer op iemand se bewerings van gerugte nie. Hy sê in die geval van 'n aansoek om 'n vervoerlisensie, moet die Provinsiale Reguleringsowerheid die voorskrifte van die direktief volg wat van die beplanningsowerhede (munisipaliteite) ontvang word in terme van hulle geïntegreerde vervoerplan (GVP) of gesonde vervoerbeplanningsbeginsels. "Die vraag en aanbod, gebaseer op die munisipaliteit se GVP, asook die behoefte vir sekere openbare vervoerdienste in 'n dorp of gebied sal die aantal vervoerlisensies bepaal."
Hy sê e-roep is 'n openbare vervoer-dienstipe wat by 'n munisipaliteit se Geïntegreerde Vervoerplan ingesluit kan word.
"In die Kaapse Metro is dit die gebruik dat voornemende e-roepoperateurs eers met die Stad Kaapstad konsulteer oor vraag en aanbod voordat 'n aansoek vir 'n vervoerlisensie by die Provinsiale Reguleringsowerheid ingedien word. Dieselfde kan by ander munisipaliteite toegepas word."
E-roep is as 'n diens by die Nasionale Padvervoerwysigingswet ingesluit, maar dit is nog nie amptelik van krag gemaak nie.
Die George-verkeersafdeling het gesê aanbevelings vir vervoerpermitte word gemaak gebaseer op die GVP en in hierdie stadium is e-roepdienste nie in die plan vervat nie.
Die verkeersafdeling het gewaarsku dat daar teen 'n Bolt-bestuurder wat passasiers sonder 'n permit vervoer, opgetree sal word aangesien dit 'n oortreding van die Padvervoerwet is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'