GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Harmony Park in Pacaltsdorp is raadop oor rondloper-plaasdiere wat volgens hom op sypaadjies en in die strate tussen huise rondloop en baljaar.
"Behalwe die ongerief en verkeersdilemma, is die diere 'n gevaar vir motoriste - veral in die aand tydens beurtkrag," het hy gesê.
Die inwoner het boonop skade aan sy voertuig opgedoen nadat 'n spelerige perd 'n duik daarin geskop het.
Volgens hom is dit niks ongewoon om vir 18 koeie en 'n Brahmanbul in die middel van die pad uit te swaai, sodat hulle rustig kan verby beweeg nie.
George-munisipaliteit ondersoek tans die alternatief van 'n eksterne kontrakteur om te help met die skut van die rondloperdiere.
"Ons wetstoepassers probeer om kwessies van rondloperdiere aan te spreek soos dit opduik," het mediaskakelbeampte Debra Sauer, gesê. "Die munisipaliteit doen 'n beroep op die gemeenskap wat hierdie rondloperdiere besit om hulle binne 'n omheinde gebied aan te hou, of die risiko te loop dat die diere geskut word en fooie betaal moet word.
Hierdie diere veroorsaak skade aan eiendom en stel die lewens van pad-gebruikers, voetgangers en hulself in gevaar."
Hierdie foto is Dinsdagoggend, 6 Desember, in Harmony Park geneem.
Vrye teuels
"Vóór Covid het ons af en toe 'n perd gehad, of dalk 'n groep koeie met 'n hanteerder wat in Harmony Park se strate rondloop. Sedert grendeltyd het Harmony Park daagliks troppe koeie en perde wat in die strate rondloop," het die inwoner gesê.
Hy voer aan dat daar 'n traagheid onder wetstoepassingsbeamptes is om op te tree wanneer klagtes oor rondloperdiere aangemeld word.
"Ek het die voorval by die polisie aange-meld en 'n saak geopen." Die inwoner voer aan dat die munisipaliteit se versekering nie bereid is om vir die skade aan sy kar te betaal nie, want hulle besit nie perde nie.
"Wanneer dit donker is, veral nou met al hierdie beurtkrag, is hierdie rondloperkoeie en -perde 'n groot veiligheidsrisiko vir almal op die paaie," het hy gesê.
"Hierdie koeie moet gevang, geslag en die vleis aan die sopkombuise gegee word vir die armes en haweloses. Jy sal sien hoe vinnig die eienaars weer na hul beeste gaan kyk."
Vir enige rondloperbeeste in die pad kontak die afdeling vir wetstoepassing by 044 801 6350, of vir na-ure noodgevalle by 044 801 6300. Vir rondloperhonde in die pad, kontak die DBV by 044 878 1990.
Geen hanteerder is in sig tussen die klomp perde nie.
Perde in die mis: 22 Januarie 2022
'n Trop perde stap rustig rond in Pacaltsdorp - en laat 'n bus wag! Die foto is op 27 Oktober geneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'