GEORGE NUUS - Wynie Strydom, een van die bekendstes in Blou Bul en Suid-Afrikaanse rugby, woon nou in Groot-Brakrivier. Strydom sit nie stil nie en hy het al reeds 'n kuiergroep Grootbrak Splinters begin.
Hy en sy familie het hulle onlangs in die pragtige dorpie kom vestig en is nog besig om uit pak en in te burger.
In 'n onderhoud Maandag met George Herald het hy bygevoeg: "Ons voel al tuis hier. Die mense is ongelooflik vriendelik."
Die 70-jarige Strydom het diep spore in Blou Bul-rugby getrap. Hy word as 'n legende in Suid-Afrikaanse en Blou Bul-rugby beskou. Hy het onder meer vir die Blou Bulle se topspan uitgedraf in die dae toe Thys Lourens kaptein was.
Later het Strydom ook sy merk in die administrasie van Blou Bul-rugby gemaak.
In ligter trant het hy Maandag gesê hy skreeu nog nie vir die Stormers nie. "As dit moet sal ek vir die SWD Arende skreeu." Hy is steeds 'n groot Blou Bul-ondersteuner. "My bloed is blou."
Groot-Brakrivier laat hom ver terugdink na Graskop in die destydse Oos-Transvaal waar hy grootgeword het. Hy kan nie uitgepraat raak oor waar hy hom nou bevind nie. "Dis 'n mooi wêreld. Hier is besondere mooi sonsopkomste en sonsondergange. "Ons moes lankal gekom het," het Strydom gesê.
Benewens die natuurskoon maak die mense ook 'n groot indruk op hom. Volgens hom gesels die mense. Tong in die kies het hy vertel dat hy al by 'n winkel ingestap het en dan was die mense se reaksie: "Ons is nie bulle nie, maar ons sal die bul help."
Oor die kuiergroep, Grootbrak Splinters, sê Strydom, hulle vergader elke tweede Donderdag. "Die wat gholf speel, slaan eers 'n paar balle. Dan word daar gekuier en gesels oor onder meer die ou dae se rugby en toekomstige rugby."
Mense met wie hy al 'n lang pad in rugby gestap het soos Anton Leonard, 'n oud-Springbok en Heyneke Meyer, 'n voormalige afrigter van die Springbokke, het al saam gekuier. Leonard en Meyer het net soos Strydom in die verlede ook sterk verbintenisse met die Blou Bulle gehad.
Die Grootbrak Splinters vergader. Heel voor links is Anton Leonard en langs hom Heyneke Meyer wat net soos Wynie Strydom (heel regs) in die verlede sterk verbintenisse met Blou Bul-rugby gehad het.
Die Strydoms reeds tuis by hul nuwe tuiste in Groot-Brakrivier. Wynie Strydom (regs voor) saam met sy familie, Danie Strydom (skoonseun), Mareli (dogter), Lika (kleindogter) en Marlene, sy vrou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'