GEORGE NUUS - Die jong sportster van George, Roshwill Krige (12), word eerskomende Saterdag om 10:00 uit die St. Mary's Rooms Katolieke Kerk in Rosemoor begrawe. Roshwill het op Maandag 1 Oktober tragies gesterf toe hy in die Langkloof verdrink het, waar hy by sy pa, Zenith, gekuier het.
Mario Giewelaar, George se voormalige verkeershoof en Roshwill se oupa, sê Roshwill het omstreeks 15:00 saam met vriende in 'n dam op Misgund gaan swem toe die voorval plaasgevind het. Polisieduikers het sy liggaam omstreeks 20:00 uit die dam gehaal.
"Hy het blykbaar teruggeswem om sy gholfpet uit die water te haal toe hy skielik onder die water verdwyn het," het Giewelaar gesê.
Roshwill, 'n leerder van St. Mary's Primêr, was 'n kranige atleet wat vanjaar aangewys is as die tweede vinnigste atleet oor 150 m in Suid-Afrika. Verder het hy ook uitgeblink op die rugbyveld en is onlangs as die SWD-rugby o.12-span se onderkaptein aangewys wat in September op Riversdal aan 'n interprovinsiale toernooi vir laerskole deelgeneem het.
Giewelaar bedank hul familie, vriende en die breë publiek van George vir hul ondersteuning en medelye in die moeilike tyd.
"Boodskappe stroom in, selfs Damain Willemse en Eben Etzebeth, het aan Roshwill se ma boodskappies gestuur. Hy gaan beslis 'n groot leemte laat, nie net hier by die huis nie, maar in sport."
Die George Herald het twee weke gelede 'n artikel oor Roshwill Krige en sy sportprestasies gedra.
Volgens sy ma, Porchia Giewelaar, was haar seun 'n stil kind wat daad by die woord gevoeg het. "Hy was 'n stil seun wat opdragte nougeset nagekom het. Ons kon altyd op hom staatmaak. By die huis was hy vol grappe en soms lekker verspot, maar hy het sterk Christelike beginsels gehad en was 'n sterk leier. My hart is stukkend oor my seun. Hy los 'n groot leemte in die gesin," het sy gesê.
Roshwill word ook deur sy broer, Regan, suster, Zenley, ouma en oupa Estelle en Mario Giewelaar asook ouma Antjie Krige oorleef. Hy sal na die roudiens by die George-begraafplaas in Yorkstraat ter ruste gelê word.
Giewelaar bedank hul familie, vriende en die breë publiek van George vir hul ondersteuning en medelye in die moeilike tyd.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'