GEORGE NUUS - Die eerste afstand-troosdiens van die NG Gemeente Blanco is verlede Vrydag suksesvol gehou toe vriende en familie van oor die hele land, selfs sover as Ierland, die laaste eer betoon het aan ouma Margaret Meyer (90) van George wat die vorige Vrydagnag, 3 April, na 'n kort siekbed oorlede is.
Die oorledene se kinders en skoonkinders het die troosdiens in haar tuin, waar sy op haar gelukkigste was, bygewoon terwyl ander familielede en vriende die diens op hul selfone en die Internet gevolg het.
Ds. Francois Mulder van Blanco het die diens die vorige aand deur sy seun, Theo, laat opneem en selfs twee geestelike liedere gesing wat later op die internet versprei is. Hy het ook 'n begrafnisbrief voorberei.
Hierdie was 'n eerste vir ds. Mulder wat dit dadelik voorgestel het toe die gevreesde koronavirus-pandemie samekomste in kerke en selfs privaat wonings verbied het. Weens die gevaar van infeksie het die familie ook besluit dat net die naaste familielede in die tuin byeen sal kom.
Wonderlike terugvoering is na die tyd van almal wat die diens "bygewoon" het ontvang. Vir almal was dit 'n eerste keer wat deur die moderne tegnologie moontlik gemaak is.
Sy laat vyf kinders, Jannie (afgetrede redaksielid van George Herald) en Johlene Meyer, Gerhard en Griet Meyer, Louie en Duppie du Plessis, Gallie en Alida Meyer en Hannelie Schwartz asook 13 kleinkinders en 13 agterkleinkinders agter.
Margaret Meyer by haar kinders. Langs haar is Louie (links) en Hannelie. Agter, van links is Gerhard, Jannie en Gallie.
Die handjievol familielede wat die troosdiens in die tuin bygewoon het terwyl ander familielede en vriende dit landwyd aanlyn en op hul selfone gevolg het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'