Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sewe jaar gelede, met die dood van hul seun, het Beverley Davids van Mitchells Plain besluit sy gaan gestand doen aan 'n belofte wat sy destyds gemaak het, om kinders te bemagtig om teen boelies op te tree.
Beverley en haar man, Llewelyn Davids, het verlede Vrydag, 15 Oktober, ure by Delville Park Primêr spandeer om klasse vol leerders oor die onderwerp toe te spreek.
Dié laerskool is een van 200 skole landwyd wat die egpaar sedert Oktober 2014 onder die vaandel van hul nie-winsgewende organisasie, "Chauncey's Epic Anti-Bullying Campaign", besoek het.
"Ons seun, Chauncey, was in sy gr.-7 jaar by Harvester Primary School in Mitchells Plain toe hy geboelie is," het die Kapenaar vertel.
"Ons het as 'n gesin deur die hele kwessie gewerk en kon hom help. Toe ek eendag 'n ander ma, wat deur dieselfde dinge is, ondersteuning gee, het Chauncey my gevra om altyd daar te wees vir kinders wat geboelie word. Dit was enkele maande voor sy dood."
Chauncey het in 2014, in sy gr. 9-jaar, gesterf weens 'n wetenskapeksperiment wat skeefgeloop het. "As deel van ons veldtog praat ons oor wat met Chauncey gebeur het," het Davids verduidelik.
"Hy het die Whoomf-eksperiment probeer, waar 'n mens 'n vuuraansteker neem, 'n vlam maak en dan met 'n gasbottel soos deodorant op die vlam spuit om die vlam te vergroot. Hy het dit alleen gedoen, in 'n woonstel aan ons huis, want hy het geweet hy mag nie met vuur speel nie.
"Ek en sy jonger sussie was in die huis en het van niks geweet nie - tot ons die glas van die vensters hoor bars het. Chauncey is dood van rookinaseming. Dit is so onnodig. Ek wil hê kinders moet weet hoe gevaarlik dit is om sulke dinge sonder die toesig van 'n volwassene te doen."
Video: Michelle gesels met Beverley Davids vir die George Herald
Gaby Smith (links, agter), Kiara Saaiman, Chakira Damons en Anjay Moligan (voor), vier gr. 7's van Delville Park Primêr wat meegevoer was deur Beverley Davids (regs) se praatjie. Beverley se man, Llewellyn Davids (tweede van regs) het haar vergesel.
Die gr. 7-leerder Gaby Smith (13) het na afloop van die praatjie gesê 'n mens kan sien Beverley Davids is deur baie met haar seun.
Nog 'n klasmaat, Anjay Moligan (13), het geleer dat dit belangrik is om vir jouself op te staan teen afknouery. Vir meer inligting oor die veldtog kontak Beverley Davids by 073 958 9215 of volg hulle op Facebook.
Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'