Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die afgelope vyf jaar was soos aalwyn, galbitter, sê Benzil Ramati, maar nou kyk hy vorentoe en hoop om binnekort weer in sy verkeersuniform sy passie vir padveiligheid uit te leef.
Die omstrede verkeersman is vyf jaar gelede by sy werk in hegtenis geneem op aanklag van omkopery, maar niks het van die saak gekom nie. 'n Verheugde Ramati is Maandag 22 Maart deur sy prokureur, Winston Jansen van Nico Smit Prokureurs, ingelig dat die Wes-Kaapse hooggeregshof 'n hofbevel bekragtig het om alle vervolging teen hom permanent te staak.
"Dit beteken my kliënt sal nooit weer [op die aanklagte] vervolg kan word nie, as gevolg van die lang tydsverloop. Vyf jaar lank het sy lewe stilgestaan en het die saak soos 'n donker wolk oor hom gehang. Hy kon nie teruggaan werk toe nie en het gesukkel om ander werk te kry. Ons het die aansoek verlede maand gebring na 'n lang stryd om enige kommunikasie oor die vordering van saak te bekom," het Jansen Maandagmiddag in 'n onderhoud met die George Herald gesê.
"Hy is op dramatiese wyse op 25 Maart 2013 in hegtenis geneem, dae lank aangehou en byna vyf jaar later was daar geen vordering in die saak nie. Dit laat my wonder of daar dalk iets anders agter sy destydse arrestasie sit."
Arrestasies
Ramati en 'n kollega, Frickel Terblanche is by die George-provinsiale verkeerskantore in Yorkstraat in hegtenis geneem ná 'n uitgebreide ondersoek.
Daar is beweer dat hulle "omkoopgeld aanvaar het om boetes te verminder", het 'n polisieverklaring destyds gelui. Terblanche het kort daarna in die George-landdroshof verskyn en is op borgtog van R3 000 vrygelaat. Terblanche se saak is, sover dit bekend is, ook nie afgehandel nie.
Kyk 'n video hieronder.
Benzil Ramati (regs) en sy prokureur, Winston Jansen het rede om breed te glimlag.
Ramati is na sy arrestasie na Athlone in Kaapstad geneem. Hy is ook na sy eerste verskyning op borgtog van R3 000 vrygelaat, waarna hy enkele kere weer verskyn het, maar die saak is elke keer uitgestel. Hy het nooit kans gekry om te pleit nie. Ramati was op 25 November 2013 laas in 'n hof.
Vyf jaar van hel
Intussen vertel Ramati dat hy hom die afgelope vyf jaar besig gehou het met verskeie los werkies waaronder die vervoer van toeriste regoor die land op langafstandtoere. "Ek het ook in touch gebly met verkeersake, regoor die land met verkeersbeamptes gepraat terwyl ek toergroepe rondgery het en myself vergewis van veranderings in wetgewing."
Oor die arrestasie self, praat hy min, behalwe om te sê: "Dit was hel, iets wat ek niemand, maar niemand, ooit toewens nie. Die vernedering, die trauma waardeur ek en my familie is en dan die finansiële implikasies van werkloos wees...
"Daar was baie moeilike dae waar ek soms gevoel het om tou op te gooi, maar dan het ek op my knieë gegaan. Dit en ondersteuning van my familie en vriende wat in my geglo het, het my deurgedra. Die afgelope vyf jaar was soos aalwyn, maar nou kan ek weer vorentoe kyk."
Pad vorentoe
Oor die pad vorentoe sê Ramati hy sien daarna uit om weer by die verkeersowerheid aan te sluit en sy werk met dieselfde passie as voorheen te doen.
"Daar is nou niks meer wat in my pad staan om voort te bou waar ek vyf jaar gelede opgehou het nie." Op 'n vraag of hy enige verdere regstappe oorweeg, wou nie Ramati of Jansen kommentaar lewer nie.
Lees vorige artikels hier:
- Wat het van Ramati se saak geword?
- Ramati awaits labour court date
- Ramati withdraws CCMA case
- Klagtes teen Ramati teruggetrek
- Opvolg: Ramati en Terblanche bedank
- Opvolg: Ramati bedank
- Opvolg: Ramati moet in Kaap bly
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'