GEORGE NUUS - Basil Kock, hoof van Parkdene Primêr in George, is in die vroeë oggendure op Vrydag 19 Julie na 'n kort siekbed oorlede.
Kock het in 1982 sy onderwyskwalifikasie aan die Onderwys Kollege Suid-Kaapland (OKSK) voltooi. Tydens sy studiejare het hy reeds as sportman uitgestaan.
Allo Krotz, waarnemende hoof, sê Kock se onderwysloopbaan het in 1983 by Conville Primêr in George begin, waar hy vir 12 jaar skoolgehou het. Hy het in 1995 by Parkdene Primêr in George aangesluit en is in 2012 tot hoof bevorder.
"Hy het vir sy personeel en die leerders van die skool geleef. Hy het ook uitstekende verhoudings met die ouergemeenskap gehandhaaf en dit het hom baie geliefd gemaak."
Volgens Krotz het Kock ook diep spore in die rugbywêreld getrap. "As jong man was hy 'n kranige rugbyspeler en sportadministrateur. Toe hy by die skool aangesluit het, het hy onmiddellik 'n leidende rol gespeel ten opsigte van die herlewing van die Young Roses-rugbyklub (wat later saam met ander klubs, die Crusaders-rugbyklub geword het)."
Kock het in 2011 by Progress-rugbyklub aangesluit, waar hy die spanbestuurder was tot en met 2017. Hierna was hy visepresident van die klub tot en met sy dood.
Verder het Kock ook gedien op die uitvoerende bestuur van die SWD-rugbyunie. Hy het ook 'n belangrike rol gespeel by SWD-atletiek waar hy met George de Reuck, Lionel Carelse, Goliath Munroe, Lionel Esau en Norton Scholtz gewerk het. Krotz sê as personeel, leerders en ouers was hulle bevoorreg om Kock vir die afgelope sewe jaar as hoof te kon hê.
"Hy het diep spore by Parkdene Primêr getrap en sy dood laat 'n groot leemte."
Hy laat sy vrou, Kayda, dogter Kayleigh, seun Brandon, skoonseun Shandré, susters Julia en Beverley asook broers Richard, Gregory en Allan agter.
Die skool hou vandag, Donderdag 25 Julie, om 11:00 'n gedenkdiens by Hoërskool Parkdene se skoolsaal.
'n Begrafnisdiens word Saterdag 27 Julie om 10:00 vanuit die St. Pauls Anglikaanse kerk in Conville gehou. Diens by die huis begin 09:00.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'