Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Huldeblyke stroom in nadat een van Suid-Afrika se bekenste rugby-administrateurs, Johan Prinsloo (69), sy stryd teen kanker verloor het. Hy is Sondag oorlede.
Prinsloo het diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap. Hy was onder meer uitvoerende hoof van Suid-Afrikaanse Rugby (Saru) en het later dieselfde pos by die SWD Arende in George beklee.
Hy was 'n bekende gesig by Outeniquapark en het soms ook radio-uitsendings behartig. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Na verneem word sal dit plaasvind in Midrand, Gauteng.
Johan Lerm, 'n voormalige afrigter van die Arende wat ook saam met Prinsloo rugby uitgesaai het, het Maandag aan die George Herald gesê hy het verlede week nog kontak met hom gehad. "Nieteenstaande sy siektetoestand was hy positief."
Hugo Redelinghuys, sportredakteur van die George Herald, het in 2018 'n onderhoud met Prinsloo gevoer. Kyk 'n uittreksel van die video hieronder.
Volgens Lerm het Prinsloo oor ‘n skat van rugbykennis beskik. Rugby het altyd vir hom eerste gekom en hy het deurgaans na oplossings vir uitdagings in die rugbywêreld gesoek.
"Hy was uiters professioneel en ordentlik. Hy was altyd eerlik en reguit."
Hy het bygvoeg dat Prinsloo 'n fyn humorsin gehad het en hulle het oor die jare vriende geword. "Johan het sy bes probeer om SWD Rugby te bevorder. Hy sal gemis word."
Johan Prinsloo en Johan Lerm saai saam rugby uit op Outeniquapark.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'