GEORGE NUUS - Een van George se bekendste inwoners en iemand wat as rolbal-legende beskryf word, Akker van der Merwe senior, is Dinsdag 1 September oorlede. Die 80-jarige Van der Merwe is aan natuurlike oorsake oorlede. Hy was die laaste klompie jare veral baie bekend in rolbal-geledere.
"Ek het my beste pel verloor," het sy oudste seun, Alhan, Woensdag aan George Herald gesê. Hy word Vrydag uit die NG kerk Bergsig begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou Marie, twee seuns, 'n dogter, nege kleinkinders en een agterkleinkind.
Twee van sy kleinseuns het reeds naam gemaak op die rugbyveld - Akker junior het al vir die Springbokke uitgedraf en 'n ander kleinseun, Duhan, vir die SA skolespan. Duhan speel op die oomblik rugby in Skotland.
Akker was 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua, waar hy hoofseun was. Benewens sy betrokkenheid by sport was hy ook 'n suksesvolle sakeman. Hy is voorheen deur die Wes-Kaapse provinsiale regering vereer as sportlegende.
By die George Rolbalklub waar hy ses keer president was, het die vlag gister halfmas gehang.
In die klubhuis het ook 'n kers gebrand by 'n foto van hom om sy nagedagtenis te eer.
'n Kers het Woensdag in die klubhuis van die George Rolbalklub gebrand ter nagedagtenis van wyle Akker van der Merwe. Hier staan Tys Pringle (links) 'n jarelange rolbalvriend, en Ken Willson, vise-president van die klub. Foto: Eugene Gunning
Ken Willson, vise-president van die klub, het gesê Akker was 'n opregte en vriendelike mens. Hy was ook baie mededingend.
Volgens hom was Van der Merwe 'n bate vir die klub en die persoon wat die langste lid van die klub was.
Tys Pringle, 'n jarelange rolbalvriend, het hom beskryf as 'n rolballegende wat verskeie perstasies op die rolbalbaan bereik het. "Akker het aan bykans alle nasionale, provinisale (All Cape) en streekskompetisies deelgeneem en op alle vlakke onder die boonste spanne geïndig." Volgens Pringle was Akker sedert 1977 lid van die klub. Hy het die presidentsamp langer as enige ander president beklee.
By die George Rolbalklub het die vlag Woensdag halfmas gehang. Hier staan Tys Pringle (links,) 'n jare lange rolbalvriend, en Ken Willson, vise-president van die klub. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'