GEORGE NUUS - Sakekamers, entrepreneurs, kleinboere en gasvryheidsondernemings van oor Suid-Afrika het nog tot môre, Vrydag 22 Oktober, om in te skryf vir die AHi-eerbewyse, 'n gesogte jaarlikse kompetisie vir dinamiese sakelui.
Waar die fokus voorheen op uitsonderlike sakekamers in die Wes-Kaap was, het die AHi (vroeër die Afrikaanse Handelsinstituut) vanjaar besluit om ook die ekonomiese bydrae van entrepreneurs landwyd te erken.
Dr. Willie Cilliers, AHi Wes-Kaap se president, het Dinsdag gesê dit staan los van die George-sakekamer. Alle sakekamers wat by die AHi Wes-Kaap geaffilieer is kan inskryf. Daar is kontantpryse vir die wenners.
Vyf eerbewyse sal tydens 'n virtuele prysuitdelingsfunksie op Vrydag 12 November toegeken word. Twee weke voor die funksie word ’n kortlys met drie finaliste elk bekendgemaak in die kategorieë vir sakekamer van die jaar, entrepreneur van die jaar, beginner-entrepreneur van die jaar, kleinboer van die jaar asook innoverendste gasvryheidsbesigheid van die jaar.
Die afdelings vir kleinboer van die jaar en innoverendste gasvryheidsbesigheid is nuut. Dit wys op die belangrikheid van die landbou en ook die gasvryheidsbedryf wat steeds onder druk is.
Cilliers het gesê dat met vanjaar se AHi-eerbewyse wil hulle entrepreneurs en sakekamers vereer wat ondanks die Covid-19-pandemie en al die gepaardgaande uitdagings tog vindingryke maniere gevind het om met hulle kliënte of lede te kommunikeer. "Die AHi-eerbewyse is dikwels die grootste erkenning wat sulke kleinsake-eienaars ontvang.”
Die AHi-aankondiging volg ná Statistieke Suid-Afrika se onlangse bevinding dat nege uit elke tien kleinsakeondernemings in die land nou aansienlik minder geld maak. Net meer as ’n derde van die ondernemings moes ook personeel weens finansiële druk aflê.
“Gedurende die pandemie het die AHi gesien hoe entrepreneurs uit hulle pad uit gaan om alledaagse uitdagings met innoverende idees aan te pak. Ons wil dus vanjaar uitstaande entrepreneurs en besighede beloon wat ten spyte van al die uitdagings presteer het,” het Cilliers gesê.
Hoewel die sakekamer-kompetisiekategorie slegs vir AHi-lede is, is lidmaatskap nie vir die ander kategorieë verpligtend nie.
Om in te skryf, gaan na www.myahi.co.za. Vir navrae, stuur ’n e-pos aan info@ahiwc.co.za of WhatsApp 079 592 5945.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'