Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Liggies flikker in hul oë wanneer agterplaasbewoners van Borcherds oor hulle "Metrodene" praat. Dit is nou die oop stuk grond langs Borcherds, wat alombekend is as die Metro-gronde. Die grond is oorkant die destydse Metro Cash & Carry geleë.
Huissoekers is angstig om in aanmerking te kom vir die behuisingskema wat hier beplan word. Die Borcherds-aksiegroep het verlede week 'n vergadering met die direkteur van behuising, Charles Lubbe, belê om hul vrese en verwagtinge te bespreek.
Volgens die voorsitter, John Yoko, is agterplaasbewoners van Borcherds bang dat hulle aan die agterspeen gaan suig wanneer huise uitgedeel word. "Ons het gehoor mense van Uniondale en Thembalethu is ook begunstigdes, en ons is baie ontevrede daaroor," het Yoko gesê.
"Ons wou hieroor gesels. Ons mense kry nie huise wanneer daar in hulle areas ontwikkel word nie." Die vergadering verlede Woensdag het egter baie goed verloop en Lubbe het die inwoners gerusgestel.
Kyk 'n video hieronder.
Mary-Jane Boesak (links), John Yoko, Jim Mbuzwana en Emily Lingerveld het goeie hoop dat hulle "Metrodene" heelwat gesinne van Borcherds se drome sal bewaarheid.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag geantwoord dat die informele areas van Uniondale en Thembalethu nie in ag geneem word vir behuisings-geleenthede by die Metro-gronde nie. "Oorblywende behuisings-geleenthede sal aan persone op die waglys in terme van die toekenningsbeleid toegewys word," het sy gesê.
"Op hierdie stadium is daar ongeveer 150 gesinne in die informele area in Borcherds wat met hierdie projek geakkommodeer gaan word. Indien daar nog persone van Borcherds in terme van die toekenningsbeleid kwalifiseer, sal die getal moontlik vergroot."
Altesaam 631 residensiële erwe sal in terme van 'n raadsbesluit aan die bewoners van Borcherds, Lawaaikamp, Parkdene, Rosemoor en Proteapark toegeken word.
Edwards-Klose het gesê die projek se beplanning is afgehandel en die diensontwerp is reeds deur die siviele ingenieursdienste goedgekeur.
Inwoners van Borcherds staan die media te woord oor hul vrese en verwagtinge rondom die behuisingsprojek.
"Die tenderdokument vir die dienste word tans deur die konsultant voorberei en behoort binne die volgende 30 dae geadverteer te word. Finansiering vir die dienste is ontvang en 'n kontrakteur sal, sodra die tenderproses vir die dienste afgehandel is, aangestel word."
Volgens beplanning sal die installering van die dienste in die huidige finansiële jaar, voor einde Junie, begin.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'