KNYSNA NUUS - Die forensiese kenner Dr David Katzlow se verslag oor die oorsaak van die Knysna-brande in Junie, verskil hemelsbreed van die verslag wat op 14 Augustus deur Knysna Brandweerhoof Clinton Manuel bekendgemaak is.
Sewe mense is dood en honderde huise het in die slag gebly.
Alhoewel beide verslae ooreenkom dat die moederbrand in Elandskraal wes van Knysna begin het, verskil dit oor die spesifieke brand en oorsaak van die brand wat tot die uiteindelike grootskaalse verwoesting gely het.
Manuel sê die oorspronklike vuur was mensgemaak en dat dennebolle as aanstekers gebruik is.
Klatzow se verslag sê weerlig het die eerste brand veroorsaak en dat die digte bos vir meer as ‘n maand gesmeul het voor dit op 7 Junie deur die stormsterkwinde aangevuur is.
Inwoners van Elandskraal sê hulle het die brandweer op Sedgefield en Knysna herhaaldelik gevra om iets aan die smeulende bos te doen.
Hieronder volg AfriForum se volledige persverklaring:
Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n verslag bekend gemaak waarin sowel die oorsprong as die oorsaak van die verwoestende Knysna-brande uiteengesit word. Die verslag is opgestel deur die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow, wat in opdrag van AfriForum ’n deeglike ondersoek in Knysna oor dié brande gedoen het. Die brande in Mosselbaai, Pezula en Plettenbergbaai word ook in die verslag bespreek.
Klatzow het onder meer bevind dat een van die brande veroorsaak is deur ’n vuur wat reeds weke lank gesmeul het nadat ’n weerligstraal ’n deel van die inheemse bos getref het.
AfriForum het reeds die bevindinge in die verslag met me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, tydens ’n vergadering bespreek en ook ’n skrywe aan die Wes-Kaapse regering gerig waarin die organisasie versoek dat ’n kommissie van ondersoek ingestel word om die bevindinge verder onder die loep te neem.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie het belang by hierdie aangeleentheid aangesien AfriForum ’n sleutelrol as drukgroep in die burgerlike samelewing speel.
“Dit is belangrik dat die waarheid seëvier en dat geregtigheid geskied,” sê Roets.
Nantes Kelder, Ernst Roets, Dr. David Klatzow en Reint Dykema tydens die konferensie.
Brande wat in die verslag behandel word, sluit in:
• Die oostelike brand in Knysna: Hier word aangedui dat ’n brand toevallig by ’n beboste gebied met die naam van Dam-se-Bos ontstaan het. Brandstigting word nie vermoed nie.
• Die westelike brand in Knysna: Die brand het in die Elandskraal-omgewing ontstaan (sien grafika aangeheg) en is deur ’n weerligstraal op 12 April 2017 veroorsaak. Die brand het vir ’n aantal weke in ’n gedeelte van die inheemse bos gesmeul en weersomstandighede, waaronder sterk winde en warm lug, het dié brand op 7 Junie 2017 aangevuur.
• Die brande in die westelike gedeelte van die Knysna-strandmeer wat skade aan Brenton-on-Sea en langs Buffelsbaai aangerig het, was ’n uitvloeisel van die Elandskraal-brand.
• Die brande by Pezula was ’n uitvloeisel van die brande by Dam-se-Bos en Elandskraal. Die Elandskraal-brand het oor die westelike gedeelte van die Knysna-strandmeer na Pezula gespring.
• Die Plettenbergbaai-brande: Die brande by Dam-se-Bos en Pezula het na Plettenbergbaai versprei. Daar was egter ook twee ander brande in die omgewing wat deur ’n boom in ’n plantasie veroorsaak is. Die boom het op ’n Eskom-kragdraad geval en ’n brand het ontstaan. Nog ’n brand is per ongeluk deur ’n inwoner in ’n informele nedersetting begin.
• Die Mosselbaai-brande: Die brande hier is gestig. Die polisie het geweier om die klagtes van brandstigting wat by die plaaslike AfriForum-tak ingedien is, te ondersoek.
Dr. David Klatzow tydens die konferensie.
Klik hier vir 'n opsomming in Engels.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequ nuus'