GEORGE NUUS - 'n Vlaag gewelddadige aanvalle op leerders van Pacaltsdorp Sekondêr die afgelope paar weke het daartoe gelei dat die hulp van die plaaslike buurtwag en die polisie ingeroep is.
'n Klag van aanranding is ook by die polisie ingedien.
Volgens die skoolhoof, Clifton Titus, is die saak onder die aandag van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se distrikskantoor gebring.
In 'n Facebook-inskrywing skryf 'n bekommerde Morganita Cronjé dat dit nie meer so kan aangaan nie. Sy sê die leerders lewe in vrees en as dit nie gestop word nie, sal daar een van die dae 'n leerder sterf as gevolg van die geweld.
Volgens nog 'n Facebook-kommentaar het 'n groep dogters en seuns glo op 'n dogter se kop op 'n sypaadjie getrap.
Die ondervoorsitter van die George-polisieforum, Charlie (Dampies) Daman, het by navraag gesê die buurtwag het begin rondbeweeg in die area op tye wanneer die aanvalle gewoonlik voorkom. Lede van die Pacaltsdorp-ryskool verleen ook hulp deur met hul perde die beboste gebied agter die skool te patrolleer.
"Die aanvalle en rooftogte vind plaas tussen Reigerpark en Beachweg. Paaltjies wat daar geplant is, bemoeilik die agtervolging van die skuldiges en die beheerraad het 'n versoek aan die munisipaliteit gerig om dit te verwyder."
Dit is gewoonlik in die middae na skool wanneer die kinders huis toe stap dat die aanvallers toeslaan, en na bewering meestal vanuit Reigerpark se omgewing.
"Danksy die buurtwag en ryskool se hulp en ook ouers wat nou sigbaar is wanneer die skool uitkom, het die aanvalle gestop, maar daar word gewerk aan 'n langtermyn plan," sê Daman.
Hierdie situasie is veral vir die gr. 8's traumaties wat nie aan sulke omstandighede gewoond is nie. Daman meen ouers moet meer verantwoordelikheid neem vir hul kinders. "Die oorsaak van baie van die aanvalle is weens kinders wat naweke die smokkelhuise besoek. Dit is waar konfrontasies ontstaan en dan word dit op skooldae verder gevoer. Die situasie kom al aan van 2014. Dis nie gister se probleem nie."
Ook die koshuis langs die skool loop gereeld deur onder inbrake en diefstal.
"Dit gebeur gewoonlik oor naweke wanneer daar nie kinders is nie en wanneer die kombuisvoorraad aangevul word. Die diewe betree die terrein deur gate in die omheining te sny en breek dan in."
'n Vergadering met ouers was vir gisteraand, Woensdag 23 Februarie, by die skool beplan om te besin oor 'n plan vir die leerders se beveiliging.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het by navraag gesê dat die mees onlangse insident op 16 Februarie om ongeveer 14:30 voor die skool plaasgevind het. 'n Veertienjarige dogter het 'n klag van aanranding gelê. "Daar word beweer dat drie onbekende dogters haar aangerand het. Geen arrestasies is nog gemaak nie en die ondersoek duur voort. Dit blyk dat almal betrokke minderjariges is."
Volgens Pojie was die stasiebevelvoerder en personeel in konsultasie met die skool en gereelde patrollies deur die sektorbevelvoerder en Vispol-lede is ingestel om leerderveiligheid te bevorder. "Addisionele ontplooiing sal gedoen word deur die buurtwagte en reserviste soos nodig geag in terme van analises van dreigende misdaad."
Die WKOD se woordvoerder, Bronagh Hammond, het bevestig dat die skool die departement op Vrydag 18 Februarie in kennis gestel het van toenemende misdaadaktiwiteite teen leerders wat skool of huis toe reis. "Die WKOD is nie bewus van 'n spesifieke aanval op 'n leerder nie en het 'n verslag van die skool aangevra."
Sy het gesê dis belangrik dat al die betrokke rolspelers met mekaar praat om leerderveiligheid tydens beweging tussen die huis en skool te verseker. 'n Vergadering is vir hierdie week gereël om die kwessie te bespreek.
"Terwyl die departement 'n rol het om te speel om leerderveiligheid by die skool te verseker, is die beskerming van leerders buite die skoolhek buite ons beheer. Ons sal deur die relevante strukture werk om te help. Dit kan verhoogde polisiesigbaarheid op nabygeleë roetes na en van die skool insluit.
"Bendebetrokkenheid en dwelmmisbruik is gemeenskapskwessies wat ook deur almal betrokke aangespreek behoort te word deur onder andere bewusmakingsprogramme vir leerders," het Bronagh gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'