GEORGE NUUS - Danksy die omgee van George se gemeenskap kon Tuiniqua-versorgingsentrum meer as R23 000 insamel met 'n aanlynveiling wat gehou is om die instansie se fondse te versterk.
Die veiling wat vanaf 12 tot 17 November gehou is, was 'n eerste in Tuiniqua se 35-jarige bestaan.
Besonderhede daaroor is Maandag 8 Februarie bekendgemaak. Die jaarlikse basaar kon weens die Covid-19-situasie nie verlede jaar gehou word nie en daar is na ander moontlikhede gekyk. Mense kon aanlyn bie vir enigiets van 'n vrieskas, 'n bed, ander meubels, porseleinware en selfs speelgoed.
Sentrumhoof, Alani Voigt, sê die fondsinsameling is baie belangrik vir die instansie. Sonder bykomende fondse kan hulle nie oorleef nie.
Tuiniqua het die taak gehad om nuwe en innoverende maniere te vind om fondse in te samel.
Volgens haar het Tuiniqua nog altyd baie ondersteuning in die gemeenskap gehad. "Ons het Van Rensburg Veilings genader en hulle het onmiddellik ingestem om 'n aanlynveiling te hou.
"'n Skenkingsaksie is deur Tuiniqua begin om items in te samel, en die gemeenskap van George het nie teleurgestel nie. Tuiniqua het daarin geslaag om 'n veilingskatalogus van 80 items saam te stel."
Sy het gesê die veiling het baie goed verloop en baie bieërs het deelgeneem. Die yskas, die vrieskas en van die klassieke meubels was baie gewild. Altesaam R 23 325 is uiteindelik ingesamel.
Voigt het almal bedank wat betrokke was en veral die span van Van Rensburgs Veilings, onder leiding van Anne Spies.
"Hulle het so hard gewerk om hierdie veiling 'n sukses te maak. Dit is hierdie soort gemeenskapsgenootskap wat help om plekke soos Tuiniqua aan die gang te hou en ons kan almal nie genoeg bedank vir hul bydraes nie."
An online auction held by Tuiniqua Care Centre in George has raised R23 325. Tuiniqua thanked the Van Rensburg’s Auction team, led by Anne Spies, for helping to make this happen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'