GEORGE NUUS - Hoërskool George se o.19A-rugbyspan het Saterdagmiddag voor 'n groot skare op die Pacaltsdorp-sportterrein Pacaltsdorp Sekondêr in 'n FNB Classic Clashes-wedstryd met 39-7 geklop.
Die skeidsregter, Dylan Phokaners, het in die eerste helfte van die wedstryd vir Shaiedrain Kamfer (buitesenter), Rivaldo Gertse (regtervleuel), Kenneth Abdol (loskopstut) (almal van George) en Ellen Booysen (loskopstut) van Pacaltsdorp, met geelkaarte van die veld gestuur. Net na rustyd is Wihl Jakobs (haker) van Pacaltsdorp ook van die veld met 'n geelkaart.
In die eerste helfte het albei spanne mekaar met mening aangeval en rustyd was die telling nog sewe elk. Na rustyd het George die krane oopgedraai en sewe pragdrieë gedruk.
George se haker, Francois Cummings, was ongetwyfeld die beste speler op die veld. Sy kraglopies en rotsvaste verdediging het die skare op hul voete gehad. Cummings, wat in 2017 vir die SWD o.16 Grant Khomo-span uitgedraf het, het ook talle omgekeerde besit vir sy span bewerkstellig en is definitief 'n jong speler wat nog diep spore kan trap in SA rugby.
Rovan Jumat (vaskopstut), Romondo Josephs (slot), Kenneth Abdol (loskopstut), Jaydin Baardman (agtsteman), Dylan Smith (skrumskakel), Jaylin James (losskakel), Ree-Jason Booysen (linkervleuel), Rovan Williams (heelagter) en senterpaar, Romano Kamfer en Shaidrain Canary het ook vir die wenspan uitgeblink.
Die talentvolle heelagter van Pacaltsdorp, Davino Meyer, wat net voor rustyd sy span se enigste drie gedruk het, was sy span se beste speler. Meyer het ook met die doelskop geslaag. Sy spoed en voorgevoel vir die spel het vir George hoofbrekens gegee. Breyton Grootboom (vaskopstut), Jeaneto Pietersen (flank), Juandre Olifant (losskakel), vleuels, Adrian Muggels en Emile Mentoor asook senterpaar, Wathan Mani en Keanan Meiring het ook 'n barshou gespeel vir die tuisspan.
Jaylan James (losskakel), Rowan Jumat (vaskopstut, 2), Dylan Smith (skrumskakel, 2), Jaydin Baardman (agtsteman), Shaidrain Canary (binnesenter) is vir die wenspan oor vir drieë. James slaag ook met 'n doelskop en Romario Kamfer (buitesenter) klits ook 'n doelskop oor.
Ander uitslae en puntemakers:
Rugby:
George o.14A (32): Drieë - Rayview Cupido (regtervleuel, 3), Enzio Bruintjies (linkervleuel), Presley Miggels (haker, 2). Brenco de Kock (heelagter) slaag met 'n doelskop.
Pacaltsdorp o.14A (0)
George o.15A (38): Drieë - Markquine Swarts (buitesenter), Nicolin Hendricks (linkervleuel), Johron Jansen (flank, 2), Enrique Hendricks (flank), Jayron Nel (plaasvervanger). Jansen slaag ook met 3 doelskoppe en Jayden Keyser (losskakel) klits ook 'n doelskop oor.
Pacaltsdorp o.15A (0).
George o.16A (20): Drieë - Mathews Fortuin (regtervleuel), Curioe Kortje (buitesenter), Fabian Pietersen (agtsteman), Leogyn Stefaans (haker en kaptein).
Pacaltsdorp o.16A (0).
George o.19B (18): Drieë - Kiethroy Kiewiets (agtsteman), Shaun Pyler (losskakel), Gregon Muller (buitesenter). Pyler klits ook 'n strafdoel oor.
Pacaltsdorp o.19B (5): Drie - Enzo Kennedy (heelagter).
Ander uitslae:
Sokker:
Pacaltsdorp se seuns o.19A-span klop hul eweknie van George met 4-0. Dillon Prins, Elton Windvogel, Heinrich Baartman en Emile Britz was die doelskieters.
Padaflos:
Hoërskool George se seuns en dogterspanne klop vir Pacaltsdorp Sekondêr.
VCSV- (vasvrae):
Pacaltsdorp 9, George 5.
Skaak:
George 17.5, Pacaltsdorp 3.5.
Rolbal:
George 14, Pacaltsdorp 6.
Aksiekrieket: o.15A:
George 116, Pacaltsdorp 86. George wen met 30 lopies.
o.19A:
George 102, Pacaltsdorp 62. George wen met 50 lopies.
Tafeltennis:
George wen met 11-0.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'