GEORGE NUUS - Borge van die 2018 Erfenistoer van die Suid-Kaap Oumotorklub is Sondag met ‘n gulhartige ete by Kobus Halliday se oumotormuseum op Groot-Brakrivier bedank.
Altesaam 18 sakeondernemings en instansies maak vanjaar se Erfenistoer na die Weskus moontlik.
Die 2018 Erfenistoer begin op 21 September by Matroosberg 4x4 privaat natuurreservaat naby Ceres, en eindig weer daar op 24 September. Altesaam 27 ou motors, wat tussen 1915 en 1975 vervaardig is, neem aan die toer deel en deelnemers hoop hulle gaan betyds wees om die blommeprag te sien.
Die Erfenistoer, wat Nasionale Erfenisdag vier, het ook ten doel om oumotors aan gemeenskappe, en veral die jeug, bekend te stel.
Kontak Olivier by 082 872 6456 vir meer inligting oor die Erfenistoer, of besoek die webtuiste www.scocc.co.za en klik op Events en dan Erfenistoer.
Vanjaar se borge is Montego Pet Nutrition, die Suid-Kaap Oumotorklub, Coastal Customs, Safari, Adley House, JP Spares, Supa Quick, Mesco Engineering Supplies, Midas George, Palm Tyre, TransForm Electrical, MVZ Accountants, Daan Botha Boerdery, Game Car Wash George, Jannie Stander Boerdery, Clickonit, Team Hyperformance Centre, Perfect Water en Gerhard Barnard Boerdery.
“Montego Pet Nutrition is ons nuwe hoofborg en sal vir die volgende drie jaar aan boord wees,” het Pierre Olivier, voorsitter van die Erfenistoer-reëlingskomitee, gesê toe hy die borge bedank.
Montego se eienaar, Hannes van Jaarsveld, wat die familiebesigheid in 2000 op Graaff-Reinet begin het, het die geleentheid bygewoon. Hy en vriend Jan Olivier het Sondagoggend met Montego se 5-sitplek Robinson 66-helikopter na Groot-Brakrivier gevlieg. “Ons het ‘n passie vir ou voertuie. Ek wil graag vir my kleinkinders iets van hierdie skat los. Baie mense versamel en restoureer ou motors, maar baie van die voertuie gaan ook verlore.”
Die Erfenistoer, wat Nasionale Erfenisdag vier, het ook ten doel om oumotors aan gemeenskappe, en veral die jeug, bekend te stel.
Volgens Van Jaarsveld, wat die besigheid saam met sy vrou Carol-Ann en seuns Morne, Marco en Johan bestuur, word Montego-dierevoedingsprodukte tans landwyd en in 16 ander lande in Afrika, en in Rusland en Dubai versprei. “Die kwaliteit van ons produk, asook baie seën van bo, het ons suksesvol gemaak. My pa is dood in die jaar toe ek 15 geword het, en van daardie tyd af het ek hard gewerk. My ma het altyd gesê ‘n mens moet ‘n ding ordentlik doen, of dit liewers laat staan,” het hy gesê. Tans is daar 500 mense in diens van Montego, waarvan sowat 430 op Graaff-Reinet werk.
Hy en sy vrou Carol-Ann kan nie vanjaar aan die Erfenistoer deelneem nie omdat hulle vir die 10de jaar die KarooLus-fees op Graaff-Reinet borg en aanbied. Vanjaar bied hulle ook vir die tweede keer ‘n oumotorskou aan waar van hul eie oumotors ook te sien sal wees tydens die fees. Volgens Olivier word oorweeg om volgende jaar se 8ste Erfenistoer in die Oos-Kaap aan te bied met Graaff-Reinet as basis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'