Gallery
GEORGE NUUS - Ouder gewoonte het Borcherds en Conville nie op stemdag teleurgestel nie. Die gees van die verkiesing is met vrolike uitbundigheid gevier. Kleurvolle stalletjies al langs Thomasstraat in Borcherds voor Kidstop, en Pienaarstraat in Conville, het voetgangers en verbygaande motoriste daaraan herinner dat hulle hul kruisie moet trek.
Musiek het deurentyd gehelp om die geselligheid aan te moedig, te midde van reënbuie wat kort-kort uitgesak het.
Christeline Sampson (19) van Borcherds het Maandag vir die eerste keer gestem: "Ek is op my senuwees!" het sy gesê. "Dis die eerste keer wat ek my kruisie trek."
Denneoord
In Denneoord was daar ook heelwat kiesers wat reeds vroeg uit die vere was om hul deel te doen in die plaaslike verkiesing. Hoofverkiesingsbeampte van die stemstasie by NG Kerk Denneoord, Candice Strydom, was tevrede met die vloei van die kiesers en dankbaar vir die beskutting wat haar stemstasie teen die reën gebied het.
Die VF Plus se party-agent, Pieter Velthuizen, het gesê mense moet stem vir die party wat hulle dink 'n verskil sal maak.
Fotogalery: Election Day in George
Die DA se wykskandidaat vir wyk 18, Donovan Gultig, het gesê hy wil na die afloop van die verkiesing twee bome, 'n Outeniqua-geelhoutboom en 'n wildepruim naby die Katrivier in Madeliefiestraat plant.
Pacaltsdorp
Van al die stempunte in Pacaltsdorp was die een by New Dawn Park Primêr die woeligste. Kiesers het van voor 07:00 in die ry gestaan om hulle stem uit te bring.
Vroegaand het die ry steeds buite die skoolhek gestaan waar die verteenwoordigers van die onderskeie partye musiek gespeel en gedans het soos hulle kiesers aangemoedig het om hulle kruisies te trek.
By die stempunt by die VGK het dieselfde atmosfeer geheers, terwyl dit baie stiller was by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal.
Die 19-jarige Christeline Sampson was dood-benoud op haar eerste stemdag. "Ek's so op my senuwees," het sy gesê. George Herald het vir haar gewag om haar kruisie te trek, maar sy het soos 'n groot speld verdwyn. Ons hoop dit het goed gegaan, Christeline!
Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'