Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) in die Wes-Kaap aan bewind kom, sal hy sorg dat 'n Jeugontwikkelingsministerie in die provinsiale wetgewer gevestig word.
Dit is Saterdag deur die PBI onderneem by die bekendstelling van die party se provinsiale verkiesingsmanifes.
Die geleentheid is by Eagles Nest Ministries in Pacaltsdorp gehou en die saal was stampvol.
Met die aanvang van die vergadering het Virgill Gericke, die PBI-leier en ook die party se premierskandidaat in die Wes-Kaap, aanwesiges gevra om bietjie litte los te maak. Die aanwesiges het geesdriftig aan sy versoek voldoen en danspassies uitgevoer.
In sy toespraak het Gericke hom sterk uitgespreek teen korrupsie en ook 'n pleidooi gelewer dat eiendomsreg verbreed word.
Gericke het gesê hy gee toe daar kan nie huise vir almal gebou word nie. Die waglys vir huise in George alleen is byna 20 000 huise. Daarby is nie eers ingereken byvoorbeeld Knysna, Sedgefield, Kaapstad en ander plekke in die provinsie nie.
Virgill Gericke, die PBI-leier en ook die party se premiers-kandidaat.
As die regering nie vir almal kan huise bou nie, gee dan vir die persoon wat in 'n agterplaas woon 'n stukkie grond en die titelakte daarvoor. Gee dan ook vir die eienaar dienste soos water en elektrisiteit. Dit is PBI beleid. Hy het onderneem dat die PBI hulle daarvoor sal beywer van die eerste dag dat hulle in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer verkies is.
Llu-Kayden Olivier, die PBI-jeugleier, het gesê op Vryheidsdag is daar goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat die land se demokrasie 25 jaar oud is en baie van die jeug wat na 1994 gebore is, het steeds niks nie. Daar is onder meer werkloosheid, misdaad en dwelms. Dis hartseer.
Kyk 'n video hieronder:
Die goeie nuus is dat die jeug sonder twyfel op 8 Mei vir die PBI gaan stem. Volgens hom wil die PBI met die vestiging van 'n Jeugontwikkelingsministerie seker maak dat die jeug eerste gestel word. Dit sal bestuur word deur 'n jeugminister. Die eerste geveg wat die ministerie sal aanknoop is vir vrye onderwys.
"Talle jongmense word na 25 jaar van demokrasie steeds agtergelaat. Die werkloosheidskrisis kan nie meer so aanvaar word nie. Jongmense is steeds werkloos. Hulle raak betrokke by byvoorbeeld dwelms. Dit kan nie so voortgaan nie.
"Die jongmense benodig vaardighede sodat hulle van die strate af geneem kan word en weer terug in die hoofstroom-ekonomie kan kom. Die PBI wil weer vir jongmense 'n siel en 'n werk gee."
Lees 'n vorige artikel: Verbreed eiendomsreg vra PBI
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'