GEORGE NUUS - Lede van die George-sakekamer en Leon van Wyk, George-burgemeester het verlede Donderdag, 2 Februarie, bymekaargekom om onder andere die belangrikheid van samewerking tussen die sakegemeenskap en die munisipaliteit te bespreek.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die sakekamer beweeg van 'n vrywillige organisasie in die verlede na 'n formele nie-winsgewende maatskappy.
Die George-sakekamer sal vir die res van die sakekamers in die Wes-Kaap rigting moet stel hoe sakekamers bedryf moet word. Volgens Cilliers bestaan "ons en julle" nie meer nie.
'n Spesifieke netwerkgeleentheid gaan vir nuwe sakeondernemings gehou word.
Van Wyk het gesê uit 'n sakeoogpunt is dit makliker as die sakegemeenskap saamwerk. Dis net moeiliker as daar uiteenlopende gevoelens/gedagtes is. Daar word gepoog om die samewerking en verstandhouding tussen munisipaliteite in die distrik te verbeter.
Richard Shumi van die Thembalethu-sakekamer, het gesê hy wil altyd verstaan hoe die sakegemeenskap van Thembalethu die munisipaliteit se hand kan versterk.
"Om dit te kan doen moet verstaan word wat die pad vorentoe is. Ons word altyd geken by die implementeringsfase. Dan is dit verwarrend. Dis baie belangrik dat ons miskien by die beplanningsfase ook ingetrek word. Dan kan ons saampraat en die inkoop van ander besighede op so 'n manier intrek."
Richard Shumi (Thembalethu-sakekamer), dr. Willie Cilliers (voorsitter George-sakekamer), Sam Crowley (Blanco-sakekamer), Leon van Wyk (George-burgemeester), Bernadette Schaap (bestuurder George-sakekamer) en André du Plessis (voorsitter Uniondale-sakekamer). Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'