GEORGE NUUS - Doen eerder as praat. Dis die fokus van die nuwe Garden Route Business Forum wat verlede Donderdag, 21 April, in George gestig is. Die nuwe inisiatief om die sakegemeenskap in die Tuinroete saam te snoer, het tot stand gekom nadat sakeleiers en verteenwoordigers van die sakegemeenskap in George vergader het om koppe bymekaar te sit.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer asook van die AHI, het as voorsitter/fasiliteerder van die geleentheid opgetree.
Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van die Stilbaai-sakekamer, Hessequa-sakeforum, Mosselbaai-sakekamer, Greater Knysna Business Chamber, George-sakekamer, Thembalethu-sakekamer, Pacaltsdorp Community Business Association, Oudtshoorn-sakekamer, Oudtshoorn Outlet Taskforce en die Ladismith-sakekamer.
'n Taakspan is tydens die geleentheid saamgestel.
Cilliers het Dinsdag 26 April benadruk dat dit nie 'n gespreksforum is nie en dat duidelike doelwitte geïmplementeer sal word.
Die plan is dat die taakspan vroeg in Mei sal vergader. Hulle sal onder andere kyk na hoe die forum funksioneer, spesifieke doelstellings, hoe inligting in die streek gedeel kan word en werkswyses.
Daar sal ook gekyk word na spesifieke projekte soos om investering te lok. Een van die groot uitdagings wat aangespreek sal word is werkloosheid. Dit kan aangespreek word deur geleenthede vir entrepreneurs te skep sodat hulle hul eie sakeondernemings kan begin.
Cilliers het gesê die forum is nie polities van aard nie, maar dis belangrik dat vennootskappe tussen die besigheidsektor en die regeringsfere gevestig word.
"Die rolle van die besigheidsektor en die regeringsfere moet gesinchroniseer word. Ons is nie in kompetisie met mekaar nie, ons wil saamwerk ter wille van ekonomiese groei," het hy gesê. "Die forum is inklusief. Alle sake-instansies is welkom - dit sluit landbou en toerisme in."
Sakekamers sal elkeen steeds hul eie identiteit behou en assosiasie berus op vrye keuse.
Volgens Cilliers is positiewe terugvoer ontvang sedert die stigting en nuwe lede het betrokke geraak. By die eerste geleentheid het die sakesektor ontmoet om besigheidsdoelstellings te bespreek. Mettertyd sal gesprekke met politieke leiers gevoer word.
Die sakeleiers tydens die vergadering. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'