GEORGE NUUS - Sakekamers in die streek sal nouer moet saamwerk. Dit was een van die hoofpunte wat dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, uitgelig het in sy oorsig van die instansie se aktiwiteite vir 2022/23.
Hy het die jaaroorsig gegee tydens die George-sakekamer se algemene jaarvergadering wat op Donderdag 25 Mei plaasgevind het.
Dit is deur verskeie lede en belanghebbendes bygewoon. Leon van Wyk, George se burgemeester, het as geleentheidspreker opgetree.
Cilliers is onbestrede as voorsitter vir die termyn 2023/4 herkies. 'n Nuwe bestuur is ook aangewys.
Cilliers het verwys na die huidige besig-heidsomgewing en gesê dit gaan daaroor dat sakeondernemings moet oorleef. Die pas aangekondigde rentekoers verhogings gaan 'n groot impak hê op sakeaktiwiteite.
Daar is ook beurtkrag en dis regtig moeilik om 'n besigheid in die omstandighede te bedryf. In 2023 was daar vanjaar net een dag nie beurtkrag nie.
Werkloosheid is 'n uitdaging en verlede jaar het na raming 1,1 miljoen huishulpe hul werk verloor.
Van Wyk het in sy geleentheidsrede 'n oorsig gegee van die munisipale aktiwiteite.
Hy het gesê elektrisiteit is die olifant in die vertrek. As dit fase 6 beurtkrag is kos dit die munisipaliteit sowat R260 000 per dag. Dit is sowat R7,5 miljoen per maand.
Die munisipaliteit kyk hoe hulle self die situasie kan verbeter.
Die munisipaliteit het ook 'n daling in elektrisiteitsverkope gehad. Voorheen was daar 'n surplus wat na ander kanale gekanaliseer kon word. Daar is nou 'n gat.
As inwoners steeds dieselfde standaard van diens wil hê moet die geld gevind word. Daar is besparings, maar dis nie genoeg om die gaping te vul nie en daar sal tariefverhogings moet wees.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer aan die woord. By hom is Bernadette Schaap, bestuurder van die sakekamer. Foto: Eugene Gunning
Die nuwe uitvoerende komitee van die George-sakekamer wat verlede Donderdag, 25 Mei, aangewys is. Van links is Nadia Harding, Elsie Harmse, Katlego Bodibe, Earl Erasmus. Heel regs is dr. Willie Cilliers, die voorsitter. Afwesig: Enrico Ackers en Henk Botma
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’