Die beste manier om dit te doen is om jou kapitaal te belê en te verseker dat dit groei. As jy besteding in spaar omskakel en dan jou geld belê om die opbrengste op die belegging te maksimaliseer, sal jy ware welvaart kan skep. Dit sal boonop ’n passiewe inkomste vir die res van jou lewe genereer.
Werk jou geld vir jou of werk jy bloot vir geld? Of om dit anders te stel: Werk jy slim of net hard? Hoewel niemand ooit werklik ryk geword het deur net ’n salaris te verdien nie, is daar baie mense wat net salarisverdieners was en werklik welvarend uit eie reg geword het. Hulle het nooit ’n besigheid besit nie. Hulle was nooit die besturende direkteur of uitvoerende hoof nie. Hulle het bloot geweet wat om met hul geld te doen toe hulle dit gekry het.
Kyk byvoorbeeld na ’n R100-noot. Wat sien jy? ’n Middel in jou diens, wat die res van jou lewe vir jou kan werk en dan kan aanhou om vir jou kinders, en jou kinders se kinders te werk? Bestee daardie R100 en iemand anders kry die geleentheid om daardie keuse te maak.
As jy nooit geld vir jou laat werk nie, sal jy altyd vir geld werk. As jy nie leer om slim te werk nie, sal jy altyd hard moet werk.
FINANSIËLE ONAFHANKLIKHEID
Wat is finansiële onafhanklikheid en wat beteken dit? As jy geen skuld het nie en genoeg geld om die res van jou lewe van die rente te kan leef teen die lewenspeil wat jy verkies, sal jy finansieel onafhanklik wees.
Is dit onmoontlik vir die gemiddelde persoon? Is dit ’n droom? Nee, dit is nie. Dit behoort een van jou groot finansiële doelwitte te wees, en as jy nie doelbewus daaraan werk nie, sal jy nie hierdie doelwit bereik nie.
Terwyl jy werk, moet jy elke maand ’n bietjie spaar sodat dit teen die tyd wanneer jy ophou werk, genoeg vir die res van jou lewe sal wees, en jy uit die inkomste van daardie kapitaal kan leef. Dit is die wese van aftreebeplanning.
Moet dus nie passief in jou finansies wees nie. Niemand anders het soveel belang by jou geld as jy nie. Vra, leer en bemagtig jouself om die heel beste uit jou geld te kry.